Volgens Dann-Marie Micheals, die inwoner van een van die opslaanhutte, het haar man, Awin Micheals, en haar buurvrou se man, Ettienne Adams, Saterdagaand voor die voorval gaan kuier. Die opslaanhutte staan agter in vriende se erf.
"Hulle het so na 01:00 by die huis gekom. My man het eers geëet en toe gaan slaap en Ettienne het dadelik gaan lê. Ek en my sewejarige seuntjie het al geslaap toe die buurvrou Rumandia Adams aan die deur kap. Ek het wakker geskrik en die vlamme by haar huis sien uitborrel. Toe raak ons huis ook aan die brand. Ek het my kind gegryp en my man in die hardloop wakker gemaak. My grootste vrees was dat my kind iets gaan oorkom," vertel sy.
Rumandia sê haar man het dadelik gaan slaap.
"Ek was nog wakker toe hy gaan slaap. Ek het die kers doodgeblaas en gaan lê. 'n Kort rukkie daarna het ek gesien daar is vlamme in die huis aan die kant waar Ettienne slaap. Hy het vas geslaap en ek moes hom behoorlik uit die huis sleep," vertel sy.
Dann-Marie sê sy en haar buurvrou het alles verloor.
"Daar is niks meer oor nie. Ons het letterlik net die klere wat ons aan ons lywe gehad het oor. Ons het tussen die goed gekrap om te kyk of ons nie dalk nog iets kan gebruik nie, maar daar is niks. Ons slaap nou by familie tot ons weer ons eie plekkie het."
Sy sê sy is net bly niemand het seergekry nie.
"In die huis woon tannie Sarah en twee mans in rolstoele. Ons moes eers sukkel om hulle oor die pad te kry vir ingeval die huis ook aan die brand raak. As dit my huis was wat eerste aan die brand geraak het sou hulle verseker ook skade gekry het, want my huis is reg teen die geboude huis en teen die muur van een van die gestremde mans se slaapkamers," vertel sy.
Volgens kapt. Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, word daar geen saak ondersoek nie en het die brand vermoedelik ontstaan na 'n kers omgeval het.
