Update
OUDTSHOORN NUUS - "Ek het die desperate geskreeu en die gekap aan die plate gehoor, maar die vlamme was te erg om hulle te help."
So vertel Arrie Mei, familielid van die gesin van ses persone wat gisteroggend, Woensdag 11 Januarie, 'n grusame vlammedood gesterf het toe hul opslaanhuis in die Kanaal-omgewing tot op die grond afgebrand het.
Volgens Mei was die persone wat in dié brand omgekom het sy ma, oom, suster en haar kind sowel as haar baba asook sy suster se broer.
Mei, wat direk oorkant die grusame toneel bly, vertel dat hy die betrokke oggend omstreeks 02:00 wakker geskrik het toe hy die geknetter van vlamme en histeriese gille buite sy erf gehoor het.
"Ek het dadelik opgevlie om te kyk wat aangaan. Dis toe dat ek sien dat my ma-hulle se hok besig is om af te brand. Op daardie stadium was die brandweer nog nie daar nie. Ek hoor dit nou nog duidelik hoe my suster en haar broer om hulp skree. Ek en die ander persone wat gehelp het om die brand te blus, kon net magteloos toekyk hoe hulle stemme stil raak, want die vlamme was te erg."
Volgens een van die Kanaal-inwoners is die moontlikheid groot dat beurtkrag 'n rol gespeel het in die ontstaan van die brand aangesien Oudtshoorn van 00: 00 tot 02:30 dié betrokke oggend beurtkrag gehad het.
"Hierdie hartseer-voorval is net weereens 'n bewys dat ons mense dringend huise kort. Sou 'n brand uitbreek, kan 'n mens ten minste deur vensters spring of in 'n ander kamer hol en die deure toemaak vir beskerming. Baie van die mense by die kanaal woon al vir 20 jaar in die hokke. Oor die jare het die verskillende munisipaliteite net nie aandag geskenk aan hierdie probleem nie. Hoeveel van ons mense moet nog so wreed sterf," wou sy weet.
Sersant Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het by navraag bevestig dat 'n geregtelike doodsondersoekdossier geopen is. Die oorsaak van die brand moet nog vasgestel word en die ondersoek duur voort.
Mei sê dat hy geen keuse het om nou op sy ma-hulle se erf te woon nie, alhoewel al die strukture en besittings deur die brand verswelg is.
Hy het 'n beroep gedoen op weldoeners hom by te staan met strukture, besittings, klere en kos. Mei kan by 078 993 8294 gekontak word. Die liefdadigheidsorganisasie, Sport Buddy Charity, het aangedui dat hy klere sal skenk.
Vorige artikel: Gesin sterf in vlammehel
Verslae gemeenskaplede drom saam by die grusame toneel. Foto's: Wyndham Ewerts
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'