GEORGE NUUS - Al is hy 82 jaar oud, tree Gert van Tonder, een van die bekendstes in die Suid-Afrikaanse vermaaklikheidsbedryf, steeds op. Veral die ouer garde sal hom onthou vir sy betrokkenheid by die destydse Groep Twee.
Hy het ook talle liedjies geskryf waaronder een van die grootste treffers in Afrikaans, Sproetjies was. Hy was ook by talle televisieprogramme betrokke.
Van Tonder was onlangs (28 Julie) in George vir die 100-jarige feesvieringe van Hoërskool Outeniqua waar hy gematrikuleer het. Tydens sy besoek het hy ook die geleentheid benut om mense met sy sangtalent te vermaak.
Hy het die vorige dag, Donderdag 27 Julie, by Tuiniqua-versorgingsentrum opgetree. Te oordeel aan sy sang en bewegings, ken Van Tonder nie van stilsit nie. Hy het van sy trefferliedjies gesing en ook 'n paar staaltjies oor sy lewe gedeel. Van Tonder het ook tyd ingeruim om met George Herald te gesels.
Dis 'n lang pad wat hy geloop het van waar hy op 'n bosboustasie, Bergplaas, tussen George en Knysna grootgeword het. Op die oomblik woon hy en sy eggenoot, Eunice, in Randjesfontein, Midrand, Gauteng.
Benewens sang hou hy hom besig met werkies in en om die huis op die stukkie grond waar hulle woon. Hy is oupa van twee kleinkinders.
Hy het al toer-toer na George gekom en in Kroonstad, Bloemfontein, Gqeberha, Jeffreysbaai, Oudtshoorn, Hartenbos en George opgetree.
Lees meer op susterspublikasie, George Herald
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’