OUDTSHOORN NUUS - Volgens voorlopige terugvoer vanaf die KKNK is die Kuierbuurt wat vanjaar op 'n nuwe terrein aangebied is, goed deur feesgangers, stalletjiehouers en ander operateurs ervaar.
Volgens JC Aucamp, bemarkingsbestuurder van Kunste Onbeperk, was die feesbywoning baie goed met groot gehore by die aandkonserte op die Huisgenoot-verhoog en verskeie vertonings van teater- en musiekproduksies wat uitverkoop het.
"Alhoewel dit vanweë die groot aanbod van gratis vertonings moeilik is om die aantal besoekers by die KKNK te bepaal, is dit duidelik dat hierdie 'n baie suksesvolle KKNK was."
Volgens stalletjiehouers met wie Oudtshoorn Courant gesels het, was hulle verkope goed. Oliver Holmes, wat die prys as beste kunsstalletjie ontvang het, is in sy noppies met verkope.
"Die nuwe terrein is meer kompak en die atmosfeer was beter as by vorige feeste."
Die anderkant van die Kuierbuurtmunt lyk egter nie so rooskleurig vir kunstenaars wat reeds etlike jare in persele in Baron van Reedestraat uitstal nie. Met die vorige Rivierbuurt weerskante van St. Johnstraat het bykans elke feesganger by kunsgalerye en uitstallers in Baron van Reedestraat verbygestap het. Vanjaar was dié kunsvoete egter kommerwekkend laag. Die Oudtshoorn Courant het met elf kunstenaars gesels wat jaar na jaar in persele in Baron van Reedestraat uitstal en volgens almal was vanjaar se feesverkope die swakste ooit. Volgens Alet Coetzer wat reeds 25 jaar Bottega-kunsgalery besit, het die verskuiwing van die feesterrein groot verliese vir kunstenaars teweeggebring en sal daar dringend na maniere gekyk moet word om voete terug te kry in Baron van Reedestraat.
Een van die uitstallers wat die afgelope 20 jaar 'n perseel huur het gesê hy was nie daarvan bewus dat die feesterrein gaan verskuif toe hy sy planne vir vanjaar gemaak het nie. Volgens Niel Els, mede-eienaar van Turnberry Boutique Hotel het die omset van sy kroeg met 70% teenoor verlede jaar gedaal.
"Ons sal innoverend moet dink om weer KKNK-voete na hierdie deel van die dorp te kry," het hy gesê.
Alet Coetzer, eienaar van Bottega-kunsgalery en Hennie Meyer, bekende pottebakker wat die afgelope aantal jare tydens die KKNK by die galery uitstal.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'