Die ongeluk het op 'n skerp draai enkele kilometers voor die T-aansluiting na George plaasgevind. 'n Werknemer van 'n verfmaatskappy in George was in sy maatskappymotor, 'n wit Hyundai Elantra op pad terug George toe, toe hy beheer oor die motor verloor en voor 'n aankomende rooi Toyota Corolla beland het. Die motors het mekaar regs voor getref en het sowat 30 meter van mekaar tot stilstand gekom.
"Ek weet nie of 'n band gebars het of wat gebeur het nie, toe ek weer sien is ek voor hulle en toe is daar 'n slag," het die Hyundai-bestuurder op die toneel aan die Oudtshoorn Courant gesê. Die bestuurder van die Toyota het sy been seergemaak en het verduidelik dat hy die eienaar van die motor, wat in die passasiersitplek gesit het, enkele minute vroeër in George gaan haal het nadat hy na 'n oog-operasie uit die hospitaal ontslaan is.
Die motoreienaar, nog met verbande om sy kop het die kant van sy kop en sy oor in die ongeluk beseer. Die derde insittende van die motor wat regs agter gesit het, is per ambulans na die Oudtshoorn-hospitaal geneem met vermoedelike nek- en rugbeserings. Nadia Ferreira, kommunikasiebeampte van die department van gesondheid het egter gisteroggend gesê dat die persoon na behandeling in die hospitaal se ongevalle afdeling ontslaan is. Op versoek van die betrokkenes en as gevolg van 'n klag wat ondersoek word is daar besluit om geen name bekend te maak nie.
Beide motors is in die ongeluk afgeskryf en die polisie het bevestig dat 'n klag van roekelose en nalatige bestuur ondersoek word.
Die Hyundai wat op 'n draai voor die Toyota beland het.
ARTIKEL: HANNES VISSER, OUDTSHOORN COURANT-REDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn | Klein-Karoo nuus'