OUDTSHOORN NUUS - Garnett Wicomb, tennisster van Oudtshoorn, is opgeneem in een van Tennis Suid Afrika (TSA) se super senior tennisspanne om aan die Wêreldspankampioenskap in Orlando, Florida, te gaan deelneem.
TSA voorsien elke speler net van 'n sweetpak en alle ander kostes soos reis en verblyf asook ander uitrusting moet deur die spelers self gedek word.
Volgens Wicomb kon hy danksy die finansiele ondersteuning van sy familie en een of twee vriende sy vliegtuigkaartjie koop maar nog nie sy hotelverblyf van sowat R15 000 betaal nie.
Enige persoon wat hom wil borg, kan hom skakel by 072 468 6456. Sy bankbesonderhede is: Absa Tjekrekeningnr 0105 4050 255.
Die kampioenskap vind van 8 tot 13 Oktober plaas.
Wicomb sal saam met Giulio Salottolo, George Rough (kaptein) en Willem Lubbe in 'n span speel.
Hulle speel in die 75-80 jaar ouderdomsgroep. Wicomb, lid van die Wesbank-tennisklub, is 'n steunpilaar in die span, met Rough en Lubbe wat hom nog nie kon klop nie.
Sharon van der Schyff, koördineerder van Tennis Suid-Afrika, het gesê TSA se deelname aan die wêreldkampioenskap het ten doel om die beste prestasie te behaal in elke ouderdomskategorie.
Wicomb het Woensdag gesê: "Ek wou nog altyd vir Suid-Afrika speel. Dit was nog altyd my droom om my land oorsee te verteenwoordig. My droom het waar geword."
Hy speel sedert die ouderdom van 16 jaar tennis en was baie jare die destydse enkelspelkampioen van die bruin SWD Tennisvereniging en saam met Harold Muller die dubbelskampioene.
Die span vertrek Donderdag uit Johannesburg.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'