Update
OUDTSHOORN NUUS - Johannes (Coby) Fredericks, 'n inwoner van Oudtshoorn, wat op 10 Oktober in Petunialaan deur 'n bakkie raakgery is, is ontslaan en sterk tans by die huis aan.
Volgens een van sy susters, Heidi Moos, kan Fredericks nie onthou hoe die ongeluk gebeur het nie.
"Hy praat nie daaroor nie, maar kry baie nagmerries daaroor. Hy het regtig baie seergekry. Hy raak ook baie emosioneel wanneer ons oor die ongeluk praat."
Fredericks is van George-hospitaal oorgeplaas na Groote Schuur-hospitaal omdat sy beserings te ernstig was. Hy was vir lank onder mediese sedasie omdat hy te veel pyn gehad het. Tydens die operasie moes hulle sy twee gebreekte bene sowel as sy gebreekte pelvis herstel. Hy het ook ernstige kopbeserings opgedoen, wat op die stadium sy korttermyngeheue aantas. Volgens Moos is hy met tye baie deurmekaar.
"Die dokter het gesê dit is 'n wonderwerk dat hy leef. Hy moet nou 35 weke plat lê omdat hy ook nek- en rugbeserings opgedoen het. Hulle is bang dat hy verlam kan raak."
Fredericks het aan Oudtshoorn Courant gesê dat hy baie seer het, maar dankbaar is dat hy leef.
Sy ander suster, Petronella Moos, sê op die stadium is die grootste uitdaging om hom stil te hou.
"Hy wil die heeltyd opstaan en self dinge doen, maar hy kan nie eers op sy been trap nie."
Die familie het vriende en familie vir hul ondersteuning bedank.
Vorige artikel: Inwoner in intensiewe sorg na bakkie hom tref
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’