OUDTSHOORN NUUS - Die We The Youth-jeugorganisasie van Dysselsdorp het onlangs 'n suksesvolle fondsinsamelingsfunksie by die Don Bosco-jeugkamp in Dysselsdorp vir Graham Danster gehou.
Danster was in 2020 in 'n duikongeluk betrokke wat hom permanent in sy onderlyf verlam gelaat het.
Volgens Graham se ma, Clara Danster, het haar seun ten tyde van die voorval in Kaapstad (Bellville) gewerk en in Belhar gewoon. Hy het die betrokke naweek van die ongeluk besluit om, soos gewoonlik, by die bure te gaan swem.
"Soos hy aan my vertel het, het hy die een oomblik by die swembad ingeduik en daarna weet hy niks wat verder gebeur het nie.
Die dokters het by Groote Schuur-hospitaal, waar hy vir vier maande gelê het, bevind dat hy sy nekwerwel gebreek het. Nadat hulle plate en skroewe in sy nek gesit het, het hulle aan my gesê dat hulle niks verder kan doen nie. Gelukkig het hy geen breinskade opgedoen nie, en kan hy normaal praat en redeneer.
Hy kon eers onlangs, na maande se intense rehabilitasie, vir die eerste keer sy arms oplig wat 'n groot mylpaal vir ons is."
Danster vertel dat hul gesin uiters geskok was toe hulle die nuus ontvang het. "Ek en Graham het die middag drieuur nog oor WhatsApp gechat toe my suster my die tyding gee dat my kind homself in die swembad beseer het. Sy seun, Grant junior, is nou maar eers drie jaar oud. Op die oomblik versorg ek hom voltyds by die huis. Ek is dankbaar vir die twee weke-opleiding wat ek by die Wes Kaapse rehabilitasie sentrum ontvang het, want Graham se derm moet elke tweede dag skoon gemaak word en hy word ook elke drie uur wanneer hy op sy driekwartbed lê, gedraai. Hy maak ook permanent van 'n kateter gebruik," het 'n emosionele Danster gesê.
Die R6 000 wat ingesamel is tydens die funksie gaan gebruik word om hul huis meer rolstoelvriendelik te maak om Graham te kan akkommodeer. Die res sal gebruik word vir medikasie, kos en volwassedoeke. Volgens Clara benodig hulle ook 'n elektriese bed met 'n lugmatras wat sal verhoed dat Graham bedsere ontwikkel en wat ook sal help om sy gedurige rugspasmas te verminder.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'