OUDTSHOORN NUUS - Oudtshoorn-hospitaal het Wêreldgeestesgesondheidsdag op 10 Oktober herdenk.
Volgens Nadia Ferreira, woordvoerder van die Wes-Kaapse gesondheidsdepartement is Oktober ook Geestesgesondheidsbewusmakingsmaand.
Vanjaar se tema is 'Geestesgesondheid is 'n universele mensereg'.
Personeel het die belangrikheid van geestelike welstand met pasiënte in wagareas bespreek en waarheen om te gaan vir hulp.
Jacky Brown, ook 'n personeellid by die fasiliteit, het oor haar bipolêre diagnose gepraat.
“Ek is in 1998 met bipolêre versteuring gediagnoseer. Met die hulp van my dokters, familie en wonderlike man, en deur die genade van God, staan ek steeds op en kan werk. Om 'n geestesgesondheidspasiënt te wees wat in die gesondheidsorgbedryf werk, kan uitdagend wees. Geestesgesondheid is 'n daaglikse stryd, want die een dag voel jy goed en die volgende dag voel jy af. Die feit dat nie elke persoon met wie jy in aanraking kom altyd verstaan waaroor geestesgesondheid gaan nie, kan die lewe moeilik maak en dit kan die oorsaak van selfdood en dwelmmisbruik wees.
"Ek is nie skaam om oor my toestand te praat nie, want niemand vra vir enige siekte nie. Geestesgesondheidspasiënte is soos enige ander chroniese pasiënt soos diabete en mense met epilepsie. Ons as geestesgesondheidspasiënte wil hê dat die gemeenskap ons op dieselfde manier moet behandel as enige ander chroniese pasiënt. Ons het net 'n bietjie liefde en omgee nodig en dat almal probeer om in ons skoene te wees. Die enigste ding wat ons as geestesgesondheidspasiënte kan doen, is om ons medikasie te drink en ons koppe besig te probeer hou deur 'n stokperdjie te kry, 'n gesonde dieet te hê en weg te bly van alkohol. Moet nooit skaam wees oor wie jy is nie. Praat oor hoe jy voel.”
Stappe wat jy kan neem om na jou geestesgesondheid te kyk:
- Kontak. Maak kontak met die mense rondom jou: jou familie, vriende, kollegas en bure. Spandeer tyd om hierdie verhoudings te ontwikkel.
- Wees aktief. Jy hoef nie gimnasium toe te gaan nie. Gaan stap, gaan fietsry of speel sokker. Vind die aktiwiteit wat jy geniet en maak dit deel van jou lewe.
- Hou aan leer. Die aanleer van nuwe vaardighede kan jou 'n gevoel van prestasie en nuwe selfvertroue gee. So hoekom skryf jy nie in vir daardie kookkursus, begin leer om 'n musiekinstrument te speel of uit te vind hoe om jou fiets reg te maak nie?
- Gee vir ander. Selfs die kleinste daad kan tel, of dit nou 'n glimlag, 'n dankie of 'n vriendelike woord is. Groter dade, werk as vrywilliger by jou plaaslike gemeenskapsentrum, kan jou geestelike welstand verbeter en jou help om nuwe sosiale netwerke te bou.
- Wees bewus. Wees meer bewus van die oomblik, insluitend jou gevoelens en gedagtes, jou liggaam en die wêreld om jou.
As jy sukkel met geestelike welstand, besoek asseblief jou plaaslike kliniek. Die Primêre Gesondheidsorg (PHC) diens diagnoseer en behandel algemene geestesgesondheidstoestande, en organiseer die verwysing van meer ingewikkelde geestesgesondheidsprobleme na meer gepaste vlakke van geestesgesondheidsorg.
Die volgende hulplyne kan ook van hulp wees:
- Anxiety and Depression Hotline: 011 783 1474
- Drug Abuse/Naranon: 088 130 0327
- Aidsline: 0800 012 322
- Childline: 0800 055 555
- Alcoholics Anonymous: 021 418 0908
- Narcotics Anonymous: 021 797 1400
- HEAL (Halt Elder Abuse Line): 0800 003 081
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’