OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn-munisipaliteit ondersoek tans klagtes van finansiële wanbestuur by die Oudtshoorn skuiling vir haweloses.
Ntobeko Mangqwengqwe, woordvoerder van die Oudtshoorn-munisipaliteit, het dit bevestig, maar gesê besonderhede oor die voorval en die name van betrokkenes word as gevolg van die ondersoek nie bekend gemaak nie.
"Die ondersoek word saam met die departement van maatskaplike ontwikkeling gedoen en word gelei deur die inhoud van die kontrak wat met die nie-winsgewende organisasie wat die skuiling bestuur, gesluit is."
Volgens hom is daar reeds 'n klag by die polisie aanhangig gemaak.
Kaptein Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, het gesê 'n vrou is daarvan aangekla dat sy vyf pakkies muffin-mengsel op 14 Oktober by die skuiling gesteel het. Die klag is twee dae later eers gemaak.
"Die vrou is nog nie aangekla nie. Daar is nog net 'n saak gemaak. Die polisie ondersoek nog die voorval."
Volgens inligting wat die Oudtshoorn Courant bykans drie weke gelede bekom het, word daar ook beweer dat voorvalle waar geld wederegtelik uit die skuiling se rekening geneem is, ondersoek word.
Volgens 'n betroubare bron blyk dit dat die vrou glo met die bank gereël het dat slegs sy SMS'e van die bank ontvang wanneer skenkings in die rekening inbetaal word.
Dit het daartoe gelei dat 'n ander bestuurslid, wat ook insae in die rekening moes hê, nie bewus was van skenkingsgeld nie.
Sy het glo snuf in die neus gekry toe sy herhaaldelik deur die verdagte ingelig is dat geen geld in die rekening inbetaal word nie, en het toe die bank besoek.
Daar is sy meegedeel dat haar naam nie meer as 'n kontakpersoon vir SMS'e verskyn nie.
Dit blyk ook volgens die inligting dat kruideniersware en vleis wat aan die skuiling geskenk is, nie daarvoor aangewend is nie.
Die name van die persone is wel aan die Oudtshoorn Courant bekend.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'