Update
BEAUFORT WES NUUS - Die Sesde Sylvester MTB & Trail Run Challenge, is 'n drie-dag skofwedren wat vanaf 3 tot 5 Junie in die Karoo Nasionale Park plaasgevind het.
Sedert 2017, bied Jakhals Events in samewerking met SANParke se ereveldwagters, 'n Sylvester fiets- en hardloopwedren aan.
Hierdié wedren word gehou ter viering van Sylvester, die leeumannetjie, wat in 2015 uit die reservaat ontsnap het. Hy het vir 21 dae lank redelike paniek gesaai toe hy op vrye voet in die heuwels van die omgewing geswerf het.
Alle fondse uit dié wedren word vir die belangrike werk wat die Karoo Nasionale Park se ereveldwagters doen, geskenk. Daar word tans gekyk om opsporingshalsbande vir al die leeus wat in dié park bly aan te skaf.
Die toeskouervriendelike wedren het op 3 Junie by die besprekingskantoor van die Karoo Nasionale Park met 'n proloog begin en het fietsryers en hardlopers deur 'n spesifieke geboude roete geneem. Skof twee en drie het by Camp Grantham begin, en weer by dié kamp geëindig; daar was selfs spesiaal tente vir toeskouers en deelnemers opgerig.
Corné Botha, organiseerder van Jakhals Events vertel entoesiasties dat daar soms aan die roete verander moet word omdat van die leeus in die pad van die deelnemers se beplande roete is.
"Ons moet partykeer op die nippertjie van die roetes verander, maar dit is alles deel van hierdie ongelooflike wedren."
Dit is definitief gerusstellend om te weet dat wanneer die leeus van die Karoo Nasionale Park hulle opsporingshalsbande kry, hulle nie meer 'n kat se kans staan om deel te word van Sylvester se kattekwaad nie.
Vorige artikel:MTB & Trail Run Challenge ter viering van Sylvester, die leeumannetjie
Sylvester, die leeumannetjie wat soveel kattekwaad aangevang het dat hy sy eie fiets- en hardloopwedren, wat na hom vernoem is, verdien het. Foto: voorsien
'Ons bring jou die nuutste Beaufort Wes, Klein Karoo nuus'