OUDTSHOORN NUUS - Die filmloopbaan van die Oudtshoorniet, Wynand Ferreira, gaan tans van krag tot krag nadat hy onlangs 'n rol in die nuwe televisiereeks, Duiwelspoort, ingepalm het.
Ferreira se eerste groot rol op die silwerdoek was in die bekroonde rolprent, Moffie, wat vroeër vanjaar by teaters gedraai het.
Duiwelspoort handel oor 'n skatryk plaasfamilie wie se donker geheime blootgelê word. Ferreira speel die rol van 'n getroude man wat sukkel om getrou te bly aan sy vrou.
Die eerste episode is reeds Maandag op Netwerk24 uitgesaai en sal tot middel November duur. Hy vertel dat hy 'n ruk gelede die video-oudisie vir dié rol op Oudtshoorn gedoen het toe hy by sy familie gekuier het.
"Weens die Covid-19-pandemie is video-oudisies nou die nuwe normaal, maar dit het ook sy eie uitdagings. Hoe dit ook al sy, dit was heerlik om vir ’n slag weer Karoolug te asem. Wat toekomstige rolle betref is ek op die oomblik oop vir enige rol, nasionaal en international as ek van die storielyn hou," het hy gesê.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'