OUDTSHOORN NUUS - Dis feestyd met die klem op FEES, maar soos gewoonlik is dit nie net feesgangers wat opgewonde is nie.
Kansvatters, rowers en ander moeilikheidmakers dwaal ook rond.
Geniet 'n veilige fees met die volgende riglyne:
By jou oornagplek:
• Maak seker jou bagasie en besittings is veilig
• Laat waardevolle items by die gastehuis of hotel in 'n kluis bewaar word.
• Hou deure, skuifdeure en venster sonder diefwering gesluit.
• Moenie waardevolle items naby oop vensters laat nie.
• Maak seker jy weet wie is aan die anderkant van die deur voordat jy oopmaak.
• Handig sleutels by ontvangstoonbanke in en laat weet jou gasheer van jou dag se planne.
• Gebruik die hoofingang van jou oornagplek as jy saans in- of uitgaan.
By die fees
• Vermy OTM'e in verlate of dofverligte areas. Vra inwoners watter OTM'e is veilig. Tydens die fees is daar 'n hele aantal mobiele OTM'e op veilige plekke.
• Vra plaaslike mense watter gedeeltes van die dorp liefs vermy moet word.
• Moenie loop en jou selfoon gebruik nie - dit neem 'n oogwink vir iemand om dit te gryp.
• Beplan jou roete en jou dag sodat jy weet waarheen jy moet gaan.
• Vermy groot kontantbedrae in jou beursie. 'n Goeie plan is om kontant en belangrike kaarte in verskillende sakke te hou eerder as om alles in een beursie te hou.
• Die fees wemel van KKNK-personeel, sekerheidswagte en ander wetstoepassers. Gebruik hulle as jy inligting wil bekom.
• As jy 'n fiksheidsverslaafde is, maak seker om veilige roetes vir jou fietsrit of oggenddraffie te kies.
Op die pad
• Sê vir mense waar jy bly as jy vir die dag iewers heen ry.
• Maak seker dat jou voertuig in 'n goeie toestand is - gaan bande, olie en water gereeld na.
• Die feesweek is besig, vulstasies ook - hou jou motor se tenk vol vir daardie onbeplande of noodrit wat dalk opduik.
• Vermy stil en onverligte areas.
• As jy die area nie ken nie, moenie alles vertrou wat jou GPS kwytraak nie - vra eerder vir iemand of die sommige roetes veilig is.
• Ry na die naaste polisiestasie as jy onrustig is of iets opmerk wat nie pluis lyk nie.
Straatkinders, bedelaars, karwagte en ander kitsentrepreneurs
Wetstoepassers probeer hulle so ver as moontlik reguleer om te verseker dat feesgangers nie lastig geval word nie.
Die goue reëls is:
• Moenie met hulle in argumente betrokke raak nie
• Moenie kos of geld gee nie
Meld enige voorvalle dadelik by dien naaste beampte aan.
Geniet vanjaar se KKNK met oop oë en ore en wees veilig.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'