OUDTSHOORN NUUS - Pieter Fourie, die heel eerste voorsitter van die KKNK, sou voorverlede Vrydag waarskynlik uitgelate opgespring het as hy gehoor het daar is 'n moontlikheid dat die KKNK volgende jaar weer kan plaasvind.
Fourie is onlangs oorlede en was instrumenteel in die vestiging van die land se heel eerste Afrikaanse kunstefees.
Die nuus oor die moontlikheid van KKNK 2022 is tydens die KKNK se algemene jaarvergadering deur die huidige voorsitter van die direksie, Crispin Sonn, gedoen.
Hy het gesê die KKNK-bestuur is tans besig met beplanning vir 'n moontlike fees in Maart 2022, maar dat daar nog talle kwessies in ag geneem moet word.
Sonn het sy voorsitters-verslag gegee nadat Daniel Hugo die ontslape Pieter Fourie gehuldig het.
Hugo het vertel dat Fourie in 1994 gevra is om die KKNK te bestuur en dat hy gewoonlik met 'n kortbroek, kaalvoete en sonder 'n hemp in die KKNK-kantoor gesit het.
Fourie het talle toeken-nings vir sy werk as dramaturg ontvang en het teen die einde van sy lewe ook drie digbundels die lig laat sien.
Hugo Theart, artistieke direkteur van die KKNK, het in sy verslag gesê alhoewel Covid-19 die fees en ander feeste landwyd, 'n geweldige knou gegee het, het dit hulle ook geleer hoe om ander moontlikhede te oorweeg.
Die pandemie het die KKNK gedwing om die fees die afgelope twee jaar te laat voortgaan op platforms en maniere waaraan daar nie voorheen gedink is nie en wat steeds in die toekoms benut kan word.
Die KKNK se direksie is ook tydens die algemene jaarvergadering verkies.
Die direksielede is: Crsipin Sonn (voorsitter), Ismael Mahomed, Denver Moses, Johannes van Niekerk, Hugo Theart, Olga Wyngaard en Theresa Olivier.
Daniel Hugo huldig Pieter Fourie tydens die KKNK se algemene jaarvergadering. Foto's: Hannes Visser
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'