OUDTSHOORN NUUS - Die weergawes van twee partye wat betrokke is by 'n liggaam wat nie na behore versorg is en vir 'n begrafnis gereed gemaak is nie, is uiteenlopend.
Die twee partye is Jan Botha van Botha-begrafnisdienste en sy kliënte Emmet en Maria Damons.
Volgens Botha oorweeg hy regstappe teen die Damons-egpaar wat volgens hom besig is om sy naam deur die modder te sleep.
Emmet en Maria Damons van 17de Laan, Bridgton, beweer dat Botha-begrafnisdienste nie Maria se broer, Dawid Veldsman, se lyk na behore versorg het nadat hy dit van die polisie se forensiese afdeling ontvang het nie.
Die 50-jarige Veldsman is op 25 Maart oorlede en sy liggaam is op 29 Maart deur die forensiese afdeling in 'n plastieksak aan Botha-begrafnisdienste oorhandig.
Botha-begrafnisdienste beskik nie oor voertuie om lyke te vervoer of oor geriewe om liggame te berg en te versorg nie en Botha het gereël dat die liggaam na die lykshuis van Interchurch Funerals in Aalwynhof geneem word.
Hy het die familie toe, volgens Emmet Damons, meegedeel dat hy slegs die begrafnis kan doen as hulle R3 000 opdok omdat die begrafnisboekie meer as twee maande agterstallig was.
"Ons het nie R3 000 gehad nie en ons is na twee ander begrafnis-ondernemers, Alpha Star en Corner Stone wat ons vir R1 500 kon help," sê Damons.
Botha wou toe glo ook R1 500 hê vir die "uitkoop van die liggaam" en die familie kon R1 100 bymekaarskraap.
"Toe ons die deur van die lykshuis Sondag oopsluit moes ons weer uithardloop vanweë die stank en maskers gaan soek," sê Damons.
Sy swaer se liggaam was steeds in die plastieksak waarin dit meer as 'n week vantevore vanaf die forensiese afdeling ontvang is. Die liggaam was vol bloed, besig om te ontbind en het baie erg geruik.
"Die lyk was nie eers afgewas nie," sê hy. Volgens hom het hulle geen ander keuse gehad as om die bebloede liggaam net so in die plastieksak in die kis te plaas en te begrawe nie.
Botha ontken dat dit sy plig was om die liggaam skoon te maak en voor te berei vir die begrafnis. Dit was volgens hom die nuwe ondernemers se taak om die liggaam te bekis.
Volgens hom word 'n lyk in 'n plastieksak gehou om te verhoed dat bloed na die forensiese ondersoek met ander lyke in aanraking kom.
Emmet en Maria Damons in hulle huis in Bridgton. Foto's: Garnett Wicomb
"Botha-begrafnisdienste kan dus nie verantwoordelik gehou word vir 'n lyk wat vol bloed was en dat daar vlieë en muggies was nie.
"Die familie sou die liggaam verlede Donderdag kom haal het maar het dit eers Sondag kort voor die begrafnis kom kry."
Volgens Botha was daar ook nie fout met die yskaste van Interchurch Funerals nie en kan 'n munisipale gesondheidsinspekteur dit bevestig. Die eienaar van Inter Church Funerals, pastoor Jantjies, het Dinsdag telefonies bevestig dat die liggaam op sy perseel geberg is.
Volgens hom het hy Botha verlede Donderdag in kennis gestel dat die liggaam besig is om te ontbind en dringend skoongemaak moet word.
Botha het glo onderneem om dit die dieselfde dag te doen, maar het nie opgedaag nie. Botha het Woensdagoggend gesê hy het wel die liggaam skoongemaak, maar moes dit weer in die bebloede sak terugplaas.
Die Oudtshoorn Courant is in besit van 'n foto van die liggaam wat met oop oë in die bebloede forensiese sak lê en dit is duidelik dat die liggaam glad nie versorg was nie. Die foto is, volgens Damons, Sondag geneem toe hulle die liggaam gaan haal het.
Op 'n vraag aan Botha wie die onderskrywers van die begrafnispolis was wat volgens hom verval het, was hy nie bereid om die inligting te verskaf nie.
ARTIKEL: HANNES VISSER EN GARNETT WICOMB
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'