OUDTSHOORN NUUS - Die skrywer Eunice Visser, het onlangs die LW Hiemstra-prys vir nie-fiksie, vir haar boek, Die Kaapse Slawe 1652-1838, ontvang; die amptelike toekenning vind in September plaas. Hierdie prys word deur die Akademie vir Wetenskap en Kuns toegeken.
Die boek is op haar meestersgraad gegrond, waaraan sy vier jaar gewerk het, terwyl 'n jaar aan die voltooiing van die finale manuskrip spandeer is.
Dr. Nicol Stassen van Protea Boekhuis het Visser genader om haar meesters-graadverhandeling te publiseer en sy sê dat daar baie ure se werk in die proeflees en slyp van die manuskrip gegaan het om dit vir publikasie reg te kry.
Die toekenning van hierdie prys word driejaarliks oorweeg vir 'n oorspronklike nie-fiksie werk in Afrikaans wat nie beperk is tot die vakspesialis nie. Die prys word geborg deur die Hiemstra Trust.
Die kortlys is soos volg:
- Dan Sleigh – Retoervloot
- Nicol Stassen – Van Humpata tot Upingtonia
- Francois Durand – Die menslike dieretuin
- Eunice Visser – Die Kaapse slawe 1652–1838
Visser sê dat hierdie boek vir persone is wat belangstel in die ontstaansgeskiedenis van 'n uniek Suid-Afrikaanse samelewing, en die rol wat slawe gespeel het in die skep van 'n inheemse kultuur, veral in die Kaap.
"Die slawe aan die Kaap het as draers en skeppers van kultuur, ten spyte van onderdrukking, 'n groot invloed uitgeoefen op die ontwikkeling van die samelewing aan die suidpunt van Afrika en veral van 'n inheemse, Kreoolse-kultuur. In hierdie boek word die slawe se rol in die ontstaan van dié eiesoortige kultuur vir die eerste keer verken," vertel Visser.
Volgens haar het sy die meeste van die inligting verkry deur intensiewe en uitgebreide studies van dagboeke van besoekers, reisigers en inwoners van die vroeë Kaap, primêre bronne in die argiewe in Kaapstad, die Suid-Afrikaanse biblioteek, die parlement se biblioteek in Kaapstad, Africana-prente en sekondêre gesaghebbende bronne oor die tersaaklike onderwerpe in die boek, na te slaan.
Sy het ook as deel van die eksemplaar persoonlik met kenners soos dr. Achmat Davids (invloedryke historikus, navorser, taalkundige en skrywer) van die Bo-Kaap gesels.
Visser het 'n BA-graad met hoofvakke Afrikaans-Nederlandse kultuurgeskiedenis en dramakunde, 'n BA (Honneurs) in kultuurgeskiedenis met lof en 'n magistergraad in kultuurgeskiedenis (Die Kaapse Slawe in Kultuur-historiese perspektief 1652-1838) met lof aan die Universiteit van Pretoria verwerf.
Sy was tot 1992 by die Namibiese departement nasionale opvoeding onder meer as kurator kultuurgeskiedenis by die nasionale museum werksaam.
As kultuurbeampte tree sy in 1986 op as sameroeper van die 500-jarige Diege Cão-herdenkingsfees en is ook later sameroeper van die eerste multikulturele nasionale jeugkoor van 'n onafhanklike Namibië. In die tyd was sy ook sekretaresse van die nasionale pleknamekomitee.
In 2012 kruis haar pad met die Suid-Afrikaanse filmmaker, Koos Roets, en is sy nou selfs betrokke by dié bedryf in ondersteunende hoedanigheid as onder meer teksredigeerder en assistent van films soos Faan se Trein en 'n Pawpaw vir my Darling, waartydens sy ook betrokke is by die stilfotografie tydens verfilming. In haar vrye tyd skryf sy enkele kunsresensies vir die dagblad, Republikein.
Visser is uitgenooi vir die bekendstelling van haar boek by Die Leesfees van Prins Albert wat vanjaar van 25 tot 27 Augustus plaasvind en sal sy beskikbaar wees om eksemplare te teken en te gesels oor haar vier jaar van toewyding aan hierdié manuskrip. Die boek is ook by alle boekhandelaars, asook aanlyn by Protea Boekhuis en Graffiti Boeke beskikbaar.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’