Update
OUDTSHOORN NUUS - Die afgelope 16 maande was die gelukkigste tyd in Ernst van Biljon (65) se lewe. So sê sy suster Marieta na dié ervare motorfietsryer se dood Maandagoggend.
Van Biljon was net na 07:00 met sy BMW-motorfiets op pad na De Rust toe hy by 'n gedeelte waar padwerke aan die gang is, geval het. Paramedici het hom op die toneel behandel en hospitaal toe geneem, maar hy het in die ambulans beswyk.
"Sy dood is vir ons 'n raaisel. As mens kyk waar hy geval het, maak dit geen sin nie en daar was skaars enige skade aan die motorfiets," het Marieta Dinsdag gesê.
Volgens haar was haar broer 'n ervare motorfietsryer wat altyd baie versigtig was. "Ek ry self motorfiets en ek weet hoe goed Ernst gery het. Ek verstaan nie hoe hy op die strook grond langs die pad beland het en hoe hy geval het nie."
Volgens haar het Van Biljon na sy aftrede as skoolhoof in 2016 besluit hy wil wegkom uit die stad uit. Hy het die laaste 20 jaar van sy onderwysloopbaan aan Sir Pierre van Ryneveld Hoërskool in Kempton Park gewy.
"Hy het kort nadat ek Oudtshoorn toe verhuis het, ook besluit om in die Klein-Karoo te kom bly en hy het my verlede jaar hierheen gevolg." Sy sê hy was op sy gelukkigste op sy motorfiets en het gou vriende gemaak.
Die ongelukstoneel waar Ernst van Biljon Maandagoggend met sy motorfiets geval het.
Hy was juis op pad De Rust toe waar hy en 'n groep vriende elke Maandagoggend by Ray's Coffee Shop bymekaarkom. "Dit was hulle manier om die nuwe week aan te pak."
Sy sê haar broer se dood is nog 'n groter skok omdat hy in 2011 'n veel erger motorfietsongeluk oorleef het. Na daardie ongeluk was hy maande in die hospitaal en vir 'n lang ruk in 'n mediese koma. "Ernst het altyd gesê die tyd wat hy na daardie ongeluk gekry het, was 'n geskenk."
Hy laat sy dogter Mia, sy suster Marieta, sy lewensmaat Karin Vermeulen en haar kinders, kleinseun Hanroux en skoondogter Taryn agter. Die begrafnisdiens vind Saterdag 15 Junie vanuit die Hervormde Kerk, Nelstraat 5, Oudtshoorn plaas.
Lees 'n vorige artikel: Motorfietsryer sterf
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'