OUDTSHOORN NUUS - Erin Botha is op 19 Mei as die KFM Flash Word-kampioen gekroon. Daagliks vanaf 17:10 skakel Botha haar radio aan en neem sy deel aan KFM se Flash Word-vasvraekompetisie.
"Ek luister al 'n hele ruk na die program en kry soms al die vrae reg. Niks kon my daarop voorberei toe hulle my bel en vir my sê dat ek gaan deelneem nie.
"Dit is heeltemal anders om die vrae te beantwoord wanneer jy radio luister, as om self deel te neem. Die ervaring was senutergend, ek het skoon gebewe toe ek die gehoorstuk vashou en die vrae moes beantwoord. 'n Mens maak baie staat op jou algemene kennis en daar is net 30 sekondes om vyf vrae te beantwoord," gesels Botha.
Botha, wat 'n werknemer by Oudtshoorn PG Glass is, het aan haar teenstander gesê dat sy spreekwoordelik sy glasie gaan kraak met hierdie ronde, en so het sy ook sy voete onder hom uitgeslaan toe sy wen.
Botha het die volgende dag weer deelgeneem, maar die keer was dit om haar titel as KFM Flash Word-kampioen te verdedig.
"Ek is vandag so spyt ek het my teenstander eerste kans gegee om die vrae te beantwoord, dit was sulke maklike vrae en ek sou definitief vier uit die vyf reg gehad het. Maar ten minste het ek die KFM Flash Word-bragging right gehad vir een volle dag!"
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'