Video
KLEIN KAROO NUUS EN VIDEO - Alhoewel sommige areas in die Oudtshoorn-omgewing Saterdag soveel as 40 mm reën ontvang het, het dit geen verskil aan die damvlak van die dorp se hoofwaterbron gemaak nie.
Die Raubenheimerdam, wat verlede week op 42,4% was is inteendeel hierdie week effens laer op 42,17%.
Volgens die munisipaliteit het Oudtshoorn 'n gemiddelde reënval van 26 mm gehad.
Op die oog af het dit gelyk asof daar genoeg water geval het om 'n noemenswaardige verskil te maak, maar die reënbui het slegs tydelike verligting gebring wat waarskynlik met die hoë temperature van die komende dae verby sal wees. Daar was ook areas waar slegs 7 mm of selfs geen reën geval het.
Die streek se reën het Saterdagmiddag in 'n kort tydjie uitgesak en saam met 'n gepaardgaande sterk wind en hael op plekke, groot skade aangerig.
Behalwe vir die Stompdrif-dam buite De Rust, wat vanaf 4,3% tot 10,5% gestyg het, het die ander damme onveranderd gebly. Die Kammanassiedam is op 3% en die Gamkadam naby Ladismith is steeds dolleeg.
Kyk 'n video hieronder.
'n Volstruis geniet sy tydelike plaspoel by Highgate.
Volgens Boets Nel, eienaar van De Krans-wynkelders op Calitzdorp het die reën wel 'n mate van verligting gebring en daarmee saam 'n sprankie hoop vir nog reën, maar hy is dit eens met ander landbouers dat die droogte se rug lank nog nie geknak is nie. Nooddienste moes Saterdagmiddag bontstaan om op verskeie oproepe te reageer.
Tydens een van die voorvalle is die waentjie waarin beamptes by 'n verkeersbeheerpunt tussen Oudtshoorn en De Rust gesit het, deur 'n sterk wind omgeruk terwyl bome op plekke ontwortel is en huise se dakke afgewaai het.
Meiringspoort was vir bykans vyf ure vir verkeer gesluit nadat die water van twee van die vyf riviere wat by die poort bymekaarkom, afgekom en dele van die pad oorstroom het. Ses mense is per helikopter na veiligheid geneem, maar verder is geen voorvalle aangemeld van motoriste wat in gevaar was nie.
Motors en 'n minibus met 'n skolesokkerspan wat in die poort tussen bruggies vasgekeer was, kon veilig uit die poort kom nadat opdrifsels en modder opgeruim is.
Die enigste voorval waarvan kennis gedra word is 'n bakkie wat Sondagoggend op modder gegly en omgeslaan het. Vier insittendes is met ligte beserings hospitaal toe geneem.
Volstruise by Highgate-volstruisplaas kort nadat ongeveer 25 mm reën in sowat 20 minute uitgesak het. Foto's: Hannes Visser
Lees 'n verwante artikel: Bus met kinders glo vasgekeer
'Ons bring jou die nuutste Klein Karoo nuus'