TUINROETE NUUS - Die saak teen 'n egpaar van George, wat in die Oudtshoorn-streekhof teregstaan op aanklagte van diefstal, onwettige besit van 'n vuurwapen en bedrog is verlede Vrydag vir die getuienis van die verdediging, wat in die Oos-Kaap woon, tot 20 Julie uitgestel.
Petrus van der Westhuizen (28) en Frederick van der Westhuizen (33) word daarvan aangekla dat hulle op 31 Oktober 2021 'n kluis met 'n .22-geweer en 'n Baraca-pistool van Martha van der Westhuizen, Petrus se moeder, gesteel het.
Petrus word ook daarvan aangekla dat hy in Februarie 2021 bedrog gepleeg het deur R80 000 van sy moeder, sonder haar toestemming, na sy bankrekening oorgeplaas het. Die beskuldigdes pleit onskuldig op al die aanklagte.
Martha van der Westhuizen het in haar hoofgetuienis getuig dat sy nie die beskuldigdes toestemming gegee het om die kluis in haar slaapkamer van die muur los te breek nie. Sy het haar seun ook nie toestemming gegee vir die oorplasing van die geld nie.
Sy het erken dat sy die pistool aan Frederick se pa vir R300 verkoop het en ontken dat R2 000 daarvoor in haar rekening inbetaal is. Sy het getuig dat sy nie die geweer kon verkoop nie omdat haar man se boedel toe nog nie afgehandel was nie. Sy het ook getuig dat sy bang was vir die twee beskuldigdes.
Haar saamleefmaat, Karel Kleynhans, het getuig dat Petrus vir sy ma gesê het dat sy haar mond moet hou toe hy en Frederick na haar kamer is om die kluis te gaan losbreek. Hy het ontken dat hy van enige kontrakte weet en die twee beskuldigdes gehelp het om die kluis los te maak.
Hy het gesien hoe die beskuldigdes die kluis in 'n gehuurde motor laai en daarmee na Gqeberha vertrek het. Volgens die beskuldigdes se regshulp-prokureur, Cindy Murray-Smith, sal hulle getuig dat die klaer wel ingestem het dat hulle die kluis uithaal en die twee vuurwapens vir Frederick se pa neem omdat hy dit gekoop het.
Martha van der Westhuizen het onder kruisverhoor erken dat sy toegegee het dat haar seun die geld in sy Capitec-rekening inbetaal en haar skuld en prokureursfooie moes betaal. Toe sy later by hom wou weet waar die res van die geld was het hy gesê dat sy dit vir hom gegee het. Sy ontken dit.
Oor of sy met die Fredrick se pa gepraat het, het sy getuig dat sy nie seker is nie en dalk vergeet het. Sy het egter ontken dat Kleynhans die beskuldigdes gehelp het om die kluis los te maak en sy alles kan onthou wat op daardie dag gebeur het.
Die saak dien voor streeklanddros Sylvia Mandla wat op 'n stadium die twee beskuldigdes gevra het om nie so styf teen mekaar te sit nie.
Vorige artikel: George-egpaar aangekla van diefstal
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete nuus'