OUDTSHOORN NUUS - Gary Hutchings en Piet Swanepoel het Woensdag met 46 Stableford-punte die Oudtshoorn-besigheidskamer se eerste gholfdag vir 2019 by die Oudtshoorn-gholfklub gewen.
Die gholfdag is deur Suid-Kaap Finansiële Dienste geborg.
William Phillipus en André Plaatjies was tweede met 45 punte, gevolg deur Bennie van Zyl en Dwayne Venter (44 punte) wat in die derde plek geëindig.
Die dag het egter aan Celeste Barnard behoort wat slegs die tweede vrou in die klub se geskiedenis geword het om 'n volmaakte gelukhou te behaal.
Barnard het dié prestasie op die 15de putjie, die langste syfer 3-putjie (185m) op die baan, behaal en kon haar oë nie glo nie. Dit het haar ook 'n ronde aan drankies vir almal in die klubhuis gekos.
Die maandelikse gholfdag is saam met die gebruiklike Vleis-dag die dae wat die meeste spelers lok het die klubkaptein, Paul Stroebel, gesê.
Altesaam 50 spelers het Woensdag deelgeneem. Stroebel het die sakekamer sowel as Suid-Kaap Finansiële Dienste bedank vir die groot finansiële inspuiting wat die klub uit dié gholfdae kry.
Hy het 'n beroep op lede gedoen om de borge te ondersteun.
Van links is Pieter Stroebel, klubkaptein van Oudtshoorn-gholfklub, Gary Hutchings en Pieter van Greunen van Suid-Kaap Finansiële Dienste. Foto: Garnett Wicomb
Gideon Badenhorst, voorsitter van die Besigheidskamer, het ook sy dank teenoor Suid-Kaap Finansiële Dienste uitgespreek wat vanjaar hul 26ste jaar van besigheid op Oudtshoorn en die Suid-Kaap vier.
Hy het weereens 'n beroep op besighede gedoen om by die kamer aan te sluit en ook aangekondig dat borge reeds vir al die sakekamer se gholfdae vir die res van die jaar bekom is.
Woensdag se ander pryswenners:Spogtweetjies:
- André Plaatjies (3de)
- Louis van Rensburg (8ste)
- Pieter van Greunen (12de).
- Naaste aan die penne vir twee:
- Louis Fourie jr (9de)
- Pieter Strauss (18de).
- Langste dryf:
- Vroue -Leonie van Greunen (6de)
- Mans - Salie Oosthuizen (7de).
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'