Gallery Video
CALITZDORP NUUS EN VIDEO - Kollegas van die ontslape Montaque Ricardo Gordon (44), 'n adjudant-offisier verbonde aan die Calitzdorp-polisie, het gistermiddag (Donderdag) by sy woning in Proteastraat blomme neergesit om eer aan hom en sy familie te betoon.
Gordon is verlede Vrydag aan Covid-19 oorlede.
Volgens sy oudste broer, kapt. Geoffrey Gordon, het Montaque verkoue gehad.
Toe dit nie beter word nie is hy dokter toe en is met Covid-19 gediagnoseer.
"Hy was baie siek. Vir ons as familie is sy dood regtig moeilik. Mense vat nie die pandemie ernstig op nie. Hulle kuier en loop sonder maskers rond en hulle besef nie hoe gevaarlik die siekte is nie. Mense gee nie om hoe dit hulle gaan affekteer nie, maar hulle moet begin dink hoe dit mense rondom hulle affekteer."
Foto's: Kollegas betoon eer aan ontslape polisieman
Kyk 'n video hieronder:
Geoffrey vertel dat Montaque in die MediClinic Klein-Karoo opgeneem is en hy dadelik op 'n drip en suurstof gesit is.
"Hy het toe ook uitgevind dat hy 'n diabeet is, hy het dit nooit geweet nie. Hy is verlede Dinsdag na MediClinic George oorgeplaas en Woensdagoggend aan 'n ventilator gekoppel en is Vrydag oorlede."
Volgens Geoffrey was sy broer 'n mense-mens. "Hy het omgegee vir ander en was elke dag dieselfde. Hy het 'n groot vriendekring gehad en was baie geliefd onder die gemeenskap en sy kollegas oor sy mooi persoonlikheid."
'n Gedenkdiens word Vrydag om 12:00 by sy ouerhuis in Volstruisweg gehou.
Al die dienste sal met Covid-19-regulasies gepaard gaan en mense word gevra om hul 1,5 meter afstand te hou en maskers te dra.
Montaque word deur sy suster Alré, broers, Marcellino, Geoffrey en William, twee seuns en sy pa, William Snr. oorleef.
Vorige artikel: Polisieman sterf aan Covid-19
'Ons bring jou die nuutste Calitzdorp, Klein Karoo nuus'