OUDTSHOORN NUUS - EDENfm, 'n gemeenskaps-radiostasie wat 20 jaar gelede in Oudtshoorn gestig is en sedertdien uit die dorp getrek het, het op Lentedag, Vrydag 1 September, amptelik hul terugkeer na die dorp gevier met 'n opening van 'n nuwe satellietateljee by die Suid-Kaap Kollege.
Eregaste, onder andere Oudtshoorn-burgemeester Chris Macpherson, voorsitter van die Suid-Kaap TVET Kollege-raad Alewyn Dippenaar, voorsitter van EDENfm se direksie, pastoor Leon Prinsloo, en stasiebestuurder Morné Pietersen was teenwoordig.
Pietersen het in sy toespraak oor die ontstaan van die radiostasie gepraat.
"Die Tuinroete, een van die mooiste streke in ons land, met sy eindelose strande, majestueuse bergreekse, ideale klimaat en vriendelike mense, 'n ware paradys van kleur, kultuur en mense, mense wat lief is vir lewe en deel, maar die paradys het 'n stem nodig gehad. Na die sluiting van Suid-Kaap Stereo - die Suid-Kaapse gemeenskapsradiostasie in 2002 - was daar 'n leemte en vakuum in die luggolwe van die Suid-Kaap, die suide het geen plaaslike stem gehad nie en was afhanklik van nasionale uitsaaiers uit die groot stede as bronne van inligting.
In Oktober 2002 het drie gemeen-skapsgebaseerde organisasies van die Suid-Kaap, die Xamaxholo Crèche in Thembalethu in George, The South Cape Review in Mosselbaai en die Club Coffee Bar-gemeenskapsentrum in Oudtshoorn almal met dieselfde visie, om 'n gemeenskapsradiostasie vir die streek te vorm, kragte saamgesnoer en die Suid-Kaap Gemeenskapsradio-inisiatief is gevorm," vertel Pietersen. Dit is waar EDENfm gebore is.
"Dié groep gemeenskapsleiers het besluit om die KKNK in 2003 as 'n geleentheid te gebruik om aansoek te doen vir die eerste uitsaailisensie, en op 21 Maart 2003 in 'n tweedehandse Hansa Pilsener-karavaan het die eerste uitsending voor Clicks in Oudtshoorn plaasgevind met baie onervare, maar passievolle aanbieders en nuuslesers," vertel Pietersen.
Daar is baie werk sedertdien gedoen om die radiostasie te kry waar hy vandag is. Die stasie saai tans uit na die gemeenskappe in onder meer die Klein-Karoo, Hessequa, Kannaland, Knysna, Plettenbergbaai en Uniondale.
Die stigting van 'n ateljee in Oudtshoorn maak dit nie net moontlik vir Oudtshoorniete om toegang tot die stasie te hê nie, maar het ook 'n verhouding tussen die stasie en die Suid-Kaap Kollege op die been gebring.
Volgens Pietersen sal die ooreen-koms nou beteken dat studente wat belangstel in die uitsaaibedryf binnekort eerstehandse ervaring, gepaard met opleiding, in radiowese sal kan ontvang.
Morné Pietersen, stasie-bestuurder en omroeper by EDENfm, agter die mikrofoon.
Foto’s: Stefan Goosen
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’