OUDTSHOORN NUUS - Die department van sosiale ontwikkeling het verlede Vrydagoggend 'n bewusmakingsprogram teen dwelmmisbruik by die VGK Môreson gehou.
Behalwe vir bewusmaking is die dag ook gehou om voormalige dwelmverslaafdes se soberheid te vier. Sowat 300 inwoners en skoolleerders van verskillende skole het deelgeneem.
Kaptein Johanna Nortje van die Oudtshoorn-polisie het die jeug aangemoedig om ambisieus te wees ten opsigte van hul loopbaan. "Moet onder geen omstandighede begin eksperimenteer met dwelms nie, want dit verwoes lewens wat eens groot potensiaal voorspel het. Konsentreer eerder doelgerig op jul studies sodat julle eendag in mooi karre en in 'n ordentlike huis kan woon" het sy gesê.
Algin Bowkers, een van die dwelmverslaafdes wat nou ten volle gerehabiliteer is, se pa, Patrick het in 'n emosionele toespraak die gehoor aangemoedig om nie moed vir hul kinders te verloor nie.
"Daar was selfs n tydperk dat dit so erg in ons huishouding gegaan het met Algin se verslawing dat ek vir die Here gevra het om hom dood te verklaar."
Bowkers vertel dat hy egter in 'n droom gesien hoe sy kind in 'n doodskis lê en dat die finaliteit van sy dood hom soos koue water in sy gesig getref het.
"Dis toe dat ek besluit het om vir my kind te veg," het hy met trane in sy oë die gehoor vertel.
Algin Bowkers is nou reeds een jaar sober en 'n blink toekoms wag vir hom. Die departement van sosiale ontwikkeling het die gemeenskap aangemoedig om 044 272 8977 te skakel indien hulle hulp nodig het in die stryd teen dwelms.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'