Update
OUDTSHOORN NUUS - Met die onrus wat vandag in Rosebank uitgebreek het oor die aflewering van voedselpakke, het die munisipale woordvoerder, Ntobeko Mangqwengqwe die proses as volg verduidelik:
1. Alle voedselhulp word deur die departement van maatskaplike dienste en Sassa bestuur. Alle voedselhulp, insluitende voedsel van die munisipaliteit se hulpfonds word volgens spesifieke kriteria aan mense uitgedeel wat aan die vereistes voldoen.
Al die voedselprojekte werk volgens 'n databasis wat deur maatskaplike ontwikkeling bygehou word om te voorkom dat sommige mense dubbele voorraad ontvang.
2. Daar is vandag begin met die uitdeel van 400 voedselpakke wat deur skenkings opgemaak is. Daar was egter slegs 136 pakke uitgedeel toe die inwoners van Rosebank in opstand gekom het en die proses is tydelik gestaak. Die res van daardie pakke sal nou weer uitgedeel word.
3. Voedselhulp van die munisipaliteit behoort teen vanmiddag te begin as die eerste pakke uitgedeel word.
4. Dit is uiters belangrik vir mense om te besef dat nie elke huishouding in 'n area voedselpakke sal ontvang nie.
Alhoewel die voedsel deur die munisipaliteit befonds is, voorsien die departement van maatskaplike ontwikkeling die name van ontvangers en daar word streng volgens die lys gewerk. Die munisipaliteit bepaal dus nie wie ontvang kos en wie nie.
5. Daar is die afgelope tyd wyd geadverteer dat mense wat sonder inkomste is hulle name moet opgee. Die van hulle wat kwalifiseer sal voedsel ontvang. Mense wat byvoorbeeld SASSA-geld ontvang, kwalifiseer nie vir voedselhulp nie. Mense wat ook reeds voedsel van een van die ander projekte ontvang het sal ook nie van die huidige pakke ontvang nie.
6. Die proses sal onmiddelik onderbreek word indien opstande en geweld onder inwoners soos vanooggend se voorval, uitbreek.
Die proses sal onmiddelik onderbreek word indien opstande en geweld onder inwoners soos vanooggend se voorval, uitbreek. Foto: Liezl van Niekerk
Vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'