OUDTSHOORN NUUS - Vier motoriste is van Saterdag tot Maandag in Oudtshoorn vir dronkbestuur gevang.
Een van hulle val onder die 40 motoriste wat die afgelope naweek deur provinsiale verkeersdienste in die Wes-Kaap vir dronkbestuur in hegtenis geneem is.
Nog drie is deur die Oudtshoorn-polisie in hegtenis geneem.
Kenny Afrika, provinsiale verkeershoof by die Wes-Kaapse departement van vervoer en openbare werke het Maandagoggend bevestig dat sy personeel 1 653 motoriste by 26 padblokkades vir dronkbestuur getoets het.
Behalwe vir die een arrestasie deur verkeersdienste op Oudtshoorn, is sewe op Swellendam, ses in George, vier in Brackenfell, vier op Vredendal, vier op Caledon, vier op Worcester, twee op Mosselbaai en een op Knysna. Hierdie 40 arrestasies sluit nie die polisie se arrestasies in nie.
Die naweek se drie Oudtshoorn-arrestasies was:
• Saterdagaand om 21:25 in St. Johnstraat, waar die polisie en verkeersdienste 'n padblokkade gehou het.
• Saterdagaand om 21:48 in Bongolethu.
• Sondagmiddag om 16:10 in Angeline LeKaystraat.
• Maandag om 14:45 is nog 'n man vir dronkbestuur in Oliviersstraat in hegtenis geneem.
Kapt. Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie het Dinsdag gesê: "Die afgelope paar dae was daar 'n toename in dronkbestuursake. Ons wil die publiek waarsku dat dronkbestuur 'n oortreding van die padverkeerswet is en ons gaan optree teen oortreders.
"Daar vind gereeld padblokkades plaas en die polisie en verkeers owerhede werk saam om die dronkbestuurders van die paaie af te hou. Moet asseblief nie jou eie en ander se lewens in gevaar stel deur dronk te bestuur nie. As jy drink, moenie bestuur nie. As jy bestuur, moenie drink nie."
Lees 'n vorige artikel: 3 Gevang vir beweerde dronkbestuur
ARTIKEL: CHRISTO VERMAAK, OUDTSHOORN COURANT JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'