OUDTSHOORN NUUS - 'n Man van Bridgton wat aan dronkbestuur skuldig bevind is, is in die Oudtshoorn-landdroshof 'n stywe boete opgelê en sy rybewys is vir ses maande opgeskort.
Die 40-jarige man is op 29 Oktober 2016 in Voortrekkerweg in hegtenis geneem vir dronkbestuur, alternatiewelik oormatige alkohol in sy bloed naamlik, 0,26 gram per 100 milliliter, wat die voorgeskrewe limiet van 0,05 gram per 100 ml oorskry.
Landdros The-Olén November het die man 'n boete van R12 000 of 12 maande gevangenisstraf opgelê waarvan die helfte vir vyf jaar opgeskort het.
Sy rybewys is vir ses maande opgeskort. Volgens die landdros moet die vonnis die beskuldigde sowel as andere afskrik om nie drank te gebruik en dan agter die stuur van 'n voertuig in te klim nie.
Hy het in ag geneem dat die man skuldig gepleit en daarmee 'n mate van berou getoon het.
"Iemand wat alkohol gebruik het kan nie 'n voertuig met die nodige behendigheid bestuur nie.
Dit is 'n ernstige misdryf, maar gelukkig was daar nie 'n ongeluk nie en is daar nie enige skade aangerig nie.
Die gemeenskap het ook 'n belang in die vonnis, maar dit beteken nie dat daar vandag 'n voorbeeld van die beskuldigde gemaak moet word nie," het die landdros gesê.
Toestemming is verleen dat die man die boete teen R500 per maand af betaal na 'n eerste betaling van R1 500. Vandana Premchand het vir die staat en Gideon Badenhorst vir die beskuldigde opgetree.
ARTIKEL: GARNETT WICOMB
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'