OUDTSHOORN NUUS - 'n Oudpolisieman, wat al twee keer tevore aan dronkbestuur skuldig bevind is, is Vrydag vir 'n derde keer aan dieselfde oortreding skuldig bevind en die keer direkte gevangenisstraf opgelê, terwyl sy rybewys vir 10 jaar opgeskort is.
Piet Herwel (52) het skuldig gepleit.
Die staatsaanklaer Thuba Nyamate, het die hof vir direkte gevangenisstraf gevra omdat Herwel weer aan die ernstige misdryf skuldig bevind is en alle ander opsies nie die nodige uitwerking op hom gehad het nie.
"Mense sterf daagliks in ongelukke waarby alkohol en spoed die oorsaak is en ons sien oral langs die paaie blommetjies teen heinings, 'n aanduiding van padsterftes," het Nyamate gesê.
Volgens Nyamate toon Herwel geen respek vir hofbevele nie en gaan hy steeds voort om onder die invloed van alkohol te bestuur.
Landdros Theolin November het Herwel behoorlik die leviete voorgelees en gesê dat 'n mens sou verwag dat hy, as 'n wetstoepasser, tot sy sinne sal kom.
"Dit gaan my verstand te bowe dat 'n wetstoepasser so optree," het die landdros gesê.
Herwel is in 2006 en weer in Augustus 2015 aan dronkbestuur skuldig bevind toe hy 'n opgeskorte vonnis opgelê is.
Die landdros het met vonnisoplegging gesê dat 'n opgeskorte vonnis of korrektiewe toesig vir 'n derde oortreding van dieselfde aard onvanpas sal wees en 'n verkeerde boodskap uitstuur.
Volgens die landdros is dit ook skokkend dat Herwel, tans 'n sekerheidsbeampte hom skuldig maak aan die ernstige misdryf.
Hy het in ag geneem dat hy skuldig gepleit het en hom tot 12 maande gevangenisstraf gevonnis en sy rybewys vir 10 jaar opgeskort.
Die staatsaanklaer het na die vonnisoplegging 'n aansoek gebring dat die opgeskorte vonnis van 12 maande gevangenisstraf wat Herwel in Augustus verlede jaar opgelê is, in werking gestel word.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'