OUDTSHOORN NUUS - Die DA beheerde Oudtshoorn-munisipaliteit het tydens 'n spesiale raadsvergadering Dinsdagoggend besluit om af te wyk van sy werwingsbeleid vir die aanstelling van 'n kandidaat vir die posisie van senior water- en rioolbestuurder.
Volgens Allen Paulse, munisipale bestuurder, is die kandidaat uiters bekwaam en was hy die enigste kandidaat nadat die pos behoorlik geadverteer is. Die besluit is geneem met die teenstem van die ANC, Icosa en Sarco.
Paulse, het verduidelik dat die pos reeds vier maande vakant is, en die dorp, net soos in die res van die land, homself in 'n waterkrisis bevind wat dringend aandag verg.
Volgens hom is aanvanklik dertien aansoeke ontvang waarvan slegs twee as geskik geïdentifiseer en vir onderhoude genooi was. Na die onderhoude het een van die kandidate egter onttrek wat die raad met slegs een kandidaat gelos het.
Hierdie kandidaat is volgens Paulse, uiters geskik vir die posisie van senior water- en rioolbestuurder met verskeie eienskappe soos wat die munisipaliteit van 'n leier verwag. Die kandidaat het onder meer twintig jaar ondervinding as 'n siviele ingenieur, beskik oor uitstekende leierskapeienskappe, uitstekende kennis ten opsigte van die water- en rioolnetwerke in die Groter Oudtshoorn en het in die verlede ook al verskeie water en rioolstrukture in die Groter Oudtshoorn gebou.
Paulse het die raad versoek om in belang van dringendheid af te wyk van sy werwingsbeleid om die krisis af te weer. Die dorp se hoofwaterbron, die Raubenheimerdam is tans slegs 30% vol terwyl inwoners voortdurend kla oor die gehalte van drinkwater.
"Hierdie is 'n buitengewone, eenmalige geval. Ons probeer hier om met spoed die probleem op te los," het Paulse gesê.
Henry Tyatya van die ANC het voorgestel dat die pos weer, en wel landwyd, geadverteer word. Gavin Juthe van Sarco was ook nie gelukkig met die versoek om van die beleid af te wyk nie en het 'n teenvoorstel ingedien. Die kwessie is tot stemming gebring en met 14 stemme teenoor ses aanvaar. Vyf lede van die ANC en Icosa was afwesig tydens die raadsvergadering.