OUDTSHOORN NUUS - 'n Driesydige oorgrens misdaad-voorkomingsoperasie wat verlede week deur verskeie lede van die polisie gehou is, is deel van die volgehoue pogings van die SAPD om misdaad hok te slaan en die veiligheid van inwoners oor die Kersseisoen te verseker.
Volgens sers. Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het die operasie die Noord-, Wes-, en Oos-Kaap gedek.
"Dié driedag-operasie het Maandag 12 Desember begin en Vrydag 16 Desember tot 'n einde geloop."
Volgens hom het die kwartaallikse multi-dissiplinêre operasie verskeie wetstoepassingsagentskappe van die drie provinsies ingesluit. Hulle het gefokus op onwettige aktiwiteite wat dwelms aanspreek, diefstal van motorvoertuie, diefstal van nie-ysterhoudende metale, verspreiding van onwettige vuurwapens, stropery van bedreigde spesies wat beskermde plante insluit, wilde diere, mariene hulpbronne en vervalste goedere.
Provinsiale- en munisipale verkeersbeamptes, binnelandse sake se immigrasiebeamptes en ander noodpersoneel het aan die operasie deelgeneem.
Die distrikte waar die operasies plaasgevind het, was Namakwa- en Pixley Ka Seme-distrikte in die Noord-Kaap, Joe Gqabi-, Chris Hani- en Sarah Baartman-distrikte in die Oos-Kaap en Sentraal-Karoo, Kaapse Wynland en Tuinroete-distrik in die Wes-Kaap.
Volgens Spies was daar 24 uur voertuikontrolepunte tussen die drie provinsies asook daaglikse opsporing van verdagtes wat deur die polisie vir onder meer geweldsmisdade, bedrog, gesinsgeweld, verkragting, saakbeskadiging, diefstal, veediefstal en huisbraak gesoek word.
Daar is ook nakomingsinspeksies by tweedehandse winkel en drankwinkels gedoen.
Van die suksesse wat tydens die operasie behaal is, behels:
- R1,2 miljoen se dagga wat en dwelms wat gevind is,
- R300 000 se verkeersboetes wat uitgeskryf is,
- 22 ongedokumenteerde persone is in hegtenis geneem,
- drie ongelisensieerde vuurwapens in gekonfiskeer,
- twee voertuie is op beslag gelê,
- 14,2 kg se koperkabels is gevind,
- twee bedreigde reptiele is gekonfiskeer en,
- 13 beskermde plantspesies in ook tydens die operasies gevind.
'n Onwettige vuurwapen wat gekonfiskeer is.
Voertuie is by padblokkades deursoek.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'