OUDTSHOORN NUUS - Die liggaam van 'n 3-jarige seun van De Hoop is Sondag 16 April, uit 'n waterkanaal van die Stompdrift en Kammanassie-watergebruikersvereniging (SKWGV) gehaal. Hierdie verdrinking volg nadat 'n 4-jarige seun verlede jaar, 19 November, naby Black Joint, Bongolethu in die sementkanaal, tydens een van die waterleibeurte, verdrink het.
Volgens Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, sers. Chris Spies, is die Oudtshoorn-polisie rondom 18:40 ontbied en 'n soektog begin nadat Jayden Ewerts (3) as vermis aangemeld is.
Hy sê dat daar beweer word dat die seun vroeër die dag saam met sy maatjies gespeel het. 'n Dossier vir 'n geregtelike doodsondersoek is deur Oudtshoorn-polisie geopen.
Charl van der Merwe, operasionele bestuurder van SKWGV, sê dat hy in die omgewing van 19:30 'n oproep van die fiskaal, Marius du Preez, ontvang het wat hom meegedeel het dat 'n kind as vermis aangemeld is. Hy het toe vir Du Preez aangesê om by die eerste siwwe in die kanaal te gaan soek.
"Op daardie stadium het niemand geweet of die kind wel in die kanaal geval het nie," sê hy.
Du Preez het toe ongeveer 30 minute later vir Van der Merwe gebel en vir hom gesê dat die kind se liggaam gevind is. Van der Merwe sê dat Du Preez, die Oudtshoorn-polisie en EMS-mediese personeel reeds op die toneel was en die kind se liggaam reeds uit die kanaal gehaal is, toe hy op die toneel aangekom het. Volgens hom het die patoloë 'n rukkie later daar opgedaag en die kind op die toneel dood verklaar en die toneel opgeruim.
"Ons was bereid om die kanaal toe te maak en droog te lê toe ons hoor dat daar 'n kind vermis is," vertel Van der Merwe.
Van der Merwe sê dat daar voorkomend opgetree is deur kennisgewings aan die media te stuur en op Facebook te plaas. Die waterkanale in Dysselsdorp word ook 24-uur per dag beman wanneer daar 'n leibeurt is. Hy sê dat hierdie leibeurt tot Woensdag sal duur.
Leon Campher, raadslid en aktivis reël 'n kranslegging vir Ewerts op Donderdag (vandag) om 14:00 op Welbejacht, waar Ewerts se liggaam gevind is.
Die area waar die liggaam van Ewerts uitgehaal is.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’