OUDTSHOORN NUUS - 'n Voormalige Oudtshoorniet met 'n liefde vir langafstande en diere, beplan om vanaf die Kaap tot in Oudtshoorn te draf om geld vir die niewinsgewinde organisasie, Oudtshoorn Dogs in Need (Odin), in te samel.
Gerhard Rademeyer van Brackenfell het op Oudtshoorn grootgeword en by die destydse Hoërskool Langenhoven ( nou Langenhoven Gimnasium) gematrikuleer.
Hy het tot op hede reeds aan meer as 300 padwedlope, insluitend die Comrades en Two Oceans, deelgeneem.
Odin se onbaatsugtige werk in die George en Oudtshoorn-omgewing het hom diep geraak. "Colleen Smith en haar span werk soms in die moeilikste omstandighede om diere te red, te versorg en te huisves en hulle is totaal afhanklik van donasies."
Sy doelwit is om 420 km ononderbroke binne 80 ure af te lê en sodoende R1 miljoen vir Odin te probeer insamel.
"Dit is die eerste padwedloop oor 420 km in Suid-Afrika wat ononderbroke aangedurf gaan word," sê Rademeyer wat op 17 Februarie vanaf die Bellville Velodrome vertrek.
Hy beplan om by die De Jager-sportstadion in Oudtshoorn te eindig."Ek daag elke maatskappy in die Tuinroete en Klein-Karoo uit om slegs R500 te skenk. Individue wat kan, word gevra om elkeen R50 te skenk."
Colleen Smit het gesê hulle is uiters dankbaar vir die inisiatief omdat hulle daagliks onder moeilike omstandighede na diere moet omsien. Mense wat bydraes wil lewer of meer inligting verlang, kan Rademeyer per 'n e-pos by rademeyer.gerhard@yahoo.com of per WhatsApp by 074 506 9279 kontak.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'