OUDTSHOORN NUUS - 'n Sogenaamde dramaprojek wat 'n 22-jarige vrou van Oudtshoorn drie weke gelede begin het, het vêrreikende gevolge vir drie maatskappye en 23 jong mense gehad.
Die vrou, wat vir eers slegs as SB bekend sal staan, het voorgegee dat sy in diens van die departement van kultuursake is en 'n dramaprojek bestuur wat glo deur Computers 4 Kids gefinansier word.
Onder hierdie dekmantel het sy twee dramagroepe en dansers in Dysselsdorp genader om by die projek betrokke te raak.
Sy het Turnberry Boutique Hotel genader en voorgegee dat sy namens Computers 4 Kids optree en toestemming gevra om die hotel se konferensiegeriewe gratis te gebruik vir onderhoude en evaluasies van die akteurs en dansers.
Aangesien die eienaar van Turnberry, Niel Els, 'n goeie verhouding met die maatskappy het en voorheen die geriewe beskikbaar gestel het, het hy weer ingestem.
Hy het egter agterdogtig geraak toe SB tien kamers bespreek het en nie met 'n deposito vorendag kon kom nie. Els het vir Carl van Blerk van Computers 4 Kids in George geskakel en gehoor die maatskappy is glad nie betrokke by enige dramaprojek nie en dat SB ook geen verbintenis met hulle het nie.
Intussen het 23 hoopvolle jongmense vir drie dae se werksessies by Turnberry opgedaag waar SB praktiese werk en evaluering met hulle gedoen het.
"Sy het vir ons gesê ons kry 'n kontrak vir 'n jaar plus skootrekenaars, sweetpakke en R5 000 per optrede," het 'n woordvoerder van die groep jongmense Maandag gesê. "Sy het belowe dat ons in opvoerings in die Baxter-teater en by Arts Cape sal optree, maar dit was alles leuens."
Die werksessies was vanaf 26 tot 28 Julie. SB het op 28 Julie aangedui dat haar 'base' nie met die projek wil voortgaan nie, maar toe om 'n onverklaarbare rede tien kamers by Turnberry bespreek vir 'n werksessie op 11 Augustus.
Die bom het rondom SB se kop gebars toe Turnberry verlede Vrydag daarop aandring dat kansellasiegeld vir die bespreking van die tien kamers betaal moes word.
'n Amptenaar van kultuursake is ook sonder sy medewete by die petalje ingesleep toe SB Turnberry onder die indruk gebring het dat sy vir die departement werk en die man toe geskakel is om die rekening van ongeveer R22 000 te vereffen.
Die jong mense van Dysselsdorp het by Turnberry opgedaag in afwagting van hulle werksessie en ook om die beloofde kontrakte te teken en hulle skootrekenaars en sweetpakke te ontvang. Nadat dit duidelik was dat die bankkaart waarmee SB vir die akkommodasie wou betaal, nie oor fondse beskik nie, het sy by Baron's Palace plek bespreek. Turnberry het egter die eienaar van Ba-ron's Palace in kennis gestel dat iets nie pluis lyk nie en die bespreking daar is ook gekanselleer.
Intussen het SB die hasepad gekies en die groep jong mense was by Baron's Palace gestrand. Die hotel het gratis etes aan hulle verskaf voordat hulle met taxis terug is Dysselsdorp toe.
Die besturende direkteur van Computers 4 Kids, Russell Pengelly, is oor die wederregtelike gebruik van die maatskappy se naam ingelig en hy en sy vrou het inderhaas van Kaapstad na Oudtshoorn gery. Hy het Maandagoggend 'n vergadering met die 23 jong mense by Turnberry gereël en SB gewaarsku om teenwoordig te wees en antwoorde te verskaf.
Tydens die vergadering het hy dit duidelik gestel dat Computers 4 Kids geensins by die dramaprojek betrokke was nie en bevestig dat die hele projek 'n slenter van SB was. Hy het haar voor die groep ge-roskam en gevra waarom sy die bedrogspul gepleeg het. Sy kon nie verduidelik waarom sy die hele projek opgedis het nie aangesien sy geen finansiële voordeel daaruit kon put nie.
Pengelly het gesê hy kan verstaan dat die groep erg teleurgesteld is en as 'n teken van goedertrou aan elkeen 'n gratis rekenaarkursus ter waarde van R500 gegee.
Hy het ook vier skootrekenaars met sagteware en programme aan 'n nie-winsgewende organisasie op Dysselsdorp, wat deur SB betrek is, geskenk. Pengelly het gesê alhoewel Computers 4 Kids geensins by die projek betrokke was nie en skade aangerig is deur die optrede van SB wil hy graag iets aan die jong mense gee sodat hulle hele traumatiese erva-ring 'n positiewe uitkoms het.
SB se naam word op hierdie stadium weerhou aangesien dit nog nie duidelik is of daar enige regstappe teen haar geneem gaan word nie.
Sy het Dinsdag in trane aan die Oudtshoorn Courant gesê sy het dit gedoen omdat sy aan haar ouers wou bewys dat sy self iets kan bereik en omdat hulle druk op haar uitoefen omdat sy nie 'n werk het nie.
Nege van die 23 jongmense wat deur 'n slenter gevang is waarvolgens hulle loopbane as akteurs beloof is.
ARTIKEL & FOTO: HANNES VISSER, OUDTSHOORN COURANT-REDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'