TUINROETE | KLEIN KAROO | HESSEQUA NUUS - Nie net Mosselbaai nie, maar ook gemeenskappe in die Suid-Kaap en Klein-Karoo het die afgelope naweek met skok verneem van dr. Paul Rüschenbaum se skielike dood.
Rüschenbaum (54), sedert April 2016 hoof van die Mosselbaai-provinsiale hospitaal en aan die stuur van sake by primêre gesondheidsorg in die distrik, is op Vrydag 15 Mei na 'n kort siekbed in die Life Bay View privaat hospitaal oorlede.
Volgens sy vrou, Helmie, is kanker sowat vyf jaar gelede by hom gediagnoseer. Die Rüschenbaums het vandeesweek hulle herinneringe aan 'n besonderse pa en eggenoot in 'n reeks stemnotas met Mossel Bay Advertiser gedeel.
Hartsake
Paul Rüschenbaum is in die Strand gebore en matrikuleer aan die Hottentots Holland Hoërskool, waar hy hoofseun en ook 'n kranige rugbyspeler was. Hy swot medies aan die Universiteit Stellenbosch, waar hy ook nagraads sy bestuursgraad verwerf. Tydens sy studentejare ontmoet hy vir Helmie, ook 'n mediese dokter.
Primêre gesondheidsorg was vir hom van kardinale belang. Met 'n hart vir sosiale geregtigheid, soos sy dogter Heidi-Lee beskryf, was sy missie om veral deur klinieke, gesondheidsdienste na mense in die verste uithoeke te neem. "Hy wou almal bereik," sê Helmie.
Die gesin is dit eens dat hy besonder trots op sy personeel was, asook die protokol in sy hospitaal. "Hy was baie lojaal teenoor die staatsdiens en ook die departement van gesondheid."
Bouprojekte en infrastruktuur het hom na aan die hart gelê. "Hy wou hê dat die beeld van die hospitaal goed moet vertoon en dat dit nie sommer nes 'n staatshospitaal moes lyk nie," vertel sy seun, Jon-Paul. Hulle het Mosselbaai se lanings platgery om na die verfkleure van huise te kyk en gewonder hoe dit op hospitaalmure sou lyk.
Een van die groot hoogtepunte vir hom, was die konstruksie en voltooiing van die Asla-kliniek. So ook die Adderley-kliniek op Oudtshoorn. Maar die Asla-kliniek was vir hom só 'n saak van erns, dat hy gereeld die bouperseel gaan inspekteer het in 'n paar skoene wat hy ewe ingenome vir R50 by die hospitaal se fondsinsameling gekoop het. "Hy was so trots op die gebou. Elke keer as ons met Louis Fourieweg in die rigting van die N2 ry, moes almal eers regs na die kliniek kyk," onthou Heidi-Lee.
Blomme was sy ding
"Die hospitaaltuin was sy baba. Die uitleg, netheid, selfs die kleur van die blomme was vir hom belangrik." Voorheen hospitaalhoof op Oudtshoorn, het hy daar ook gereeld gaan kyk of die hospitaaltuin die droogte oorleef.
Helmi sê Paul se liefdestaal was blomme. "Hy was 'n man vir wie jy kon blomme gee. En net so graag het hy blomme gegee. Blomme was sy ding."
Sy ander groot gunsteling was roomys. "Gedurende die inperking, het ons elke dag roomys geëet. Hy het verlede Donderdag sy laaste roomys in Bay View gehad. Hy het gevra dat ek asseblief vir hom roomys moet bring."
Sy beskryf haar man as 'n seemens wat 'n versugting gehad het om af te tree by die see. Hy het soggens oor die hawe uitgekyk as watersportentoesias wat tot onlangs nog waterski beoefen het.
Dr Bean
Jon-Paul sê sy pa was 'n ware Patch Adams.
"Hy het homself met die karakter in die film vereenselwig, omdat hy geglo het dat medisyne nie net klinies en wetenskaplik van aard is nie. My pa het 'n flair vir komedie gehad en kon mense laat lag." Paul het ook 'n alter ego gehad soortgelyk aan die Britse komediant, Mr Bean. "Hy het homself Dr Bean genoem."
As gesinsman, onthou sy kinders hom as 'n maat. Ten spyte van 'n besige skedule met twee praktiserende dokters in een huis, is 'n groot premie op gesinstyd geplaas. "Dit het gevoel of hy een van ons was." Heidi-Lee vertel hoe hy selfs op haar speelgoedhoendertjie se gebreekte been 'n "operasie" uitgevoer het om dit heel te maak.
Dr. Paul laat sy vrou Helmie, twee seuns, Jon-Paul en Stephan-Luke asook sy dogter, Heidi-Lee en haar man, Henry agter.
Sy roudiens word gehou op Saterdag, 23 Mei vanuit New Life Church om 11:00.
"Vanweë die inperkingsregulasies, kan ons net 50 mense daar hê. Dit sluit amper slegs familie in." Die gesin is dit egter eens dat dit nie is hoe Paul dit sou wou gehad het nie, daarom kan belangstellendes die diens regstreeks volg op New Life Church se Facebook-blad.
* Stephan-Luke was nie teenwoordig tydens die opneem van die gesin se stemnotas nie.
Huldeblyke
Kollegas en vriende het van hulle herinneringe aan hom gedeel:
Leier, leermeester
Johan Boshoff, finansiële bestuurder van distriksgesondheidsdienste, Mosselbaai sê dat dr Rüschenbaum die vermoë gehad het om ‘n kalmte en selfversekerheid in hom uit te bring. “Ek het die grootse respek vir hom as my leier en leermeester. Dis die een persoon wat my altyd veilig laat voel het. Ek het altyd geweet hy is daar vir my, al is dit net om vinnig te sê ‘Johan dit gaan okay wees. jy is op die regte pad’. Dr Paul ek sal ons BMI-sessies geweldig mis. Dit was my tyd saam met jou en ons kon oor veel as syfers praat.”
Maria Manuel van primêre gesondheidsdienste (PGS) en haar span loof dr Rüschenbaum vir sy besonderse insig in kliniekdienste. Hy was PGS-dienste se mediese bestuurder wat aldus Manuel verantwoordelikheid geneem het vir die klinieke en mobiele dienste tot groot voordeel van die personeel en die gemeenskap.
“Vanaf oriënteringsritte in 2016 tot 15 Mei 2020 was dit ‘n voorrreg om saam met hom te kon werk. Wedersydse respek en agting vir mekaar se sienswyses het ons ‘n baie hegte span gemaak.”
Met dr Rüschenbaum aan die stuur van sake, verduidelik Manuel, verander Mosselbaai se kliniekdienste van een gemeenskapsdiensentrum en drie vyfdagklnieke na twee gemeenskapgesondheidsdiensentrums en vier vyfdagklinieke. Boonop, sê sy, het die klinieke se ouditstatus het binne twee jaar geklim na drie gouestatus-fasilitiete en een silwer.
“Vir my was dr Paul ‘n sterk leier, opreg en maklik om mee saam te werk. Hy het elke dag die indruk gegee dat hy werk asof dit sy laaste dag op aarde is. Hy verlaat ons op ‘n tyd wat ons sy insig, raad en bystand die nodigste het te midde van die Covid-19-pandemie, maar ons sal alles in ons vermoë doen om hierdie virus teen te werk met dít wat hy ons nagelaat het.”
Raadslid Annatjie Janse van Rensburg het die vier jaar saam met dr Rüschenbaum op die Mosselbaai provinsiale hospitaal se sub-distrikraad gedien. “Hy was só geliefd by ons raad en onder sy hospitaal se personeel. Ek onthou nog goed hoe passievol hy oor die opgradering van die klinieke was. Dr Paul Rüschenbaum het diep spore in mense se harte gelaat. Hy het sy baie bekwame taak met toewyding verrig.”
Mensemens, vriend
Amanda Nonkenge, senior adminstrasieklerk, admissies, sê dat ‘n gesprek wat sy met dr Rüschenbaum gehad het, haar lewe verander het. “Ek het nog gewag vir die regte tyd om jou te bedank daarvoor dat jy in my geglo het,” skryf sy in ‘n roerende huldeblyk.
Petro Rhode, van die Mosselbaai provinsiale hospitaal se Cair Club, sê wat haar die meeste van dr Rüschenbaum getref het is sy verhouding met God. "Dokter was soos pa-figuur, streng maar vol liefde en omgee. Op 13 Maart 2019 toe 'n kollega van ons, Clinton Pietersen die aand sterf in Bayview-hospitaal, was dr Paul die eerste aan wie ek kon dink om te bel. Na die oproep was hy binne minute by die hospitaal. Dit is vir my so ironies dat dr Paul se sterfdag op Clinton se verjaarsdag was - 15 Mei."
Minerva Koeries, dr Rüschenbaum se persoonlike assistant vanaf 2017-2019, noem hom haar groot inspirasie. “Ek het so baie by hom geleer wat ek altyd saam met my sal dra. Hy het altyd belang gestel in ander mense se welstand. Ek sal ons geselsies baie mis. Sy liefde vir sy familie was so mooi. As ek maar net daardie Vrydag die foon opgetel en hom geskakel het soos ek beplan het.”
Pastoor Zane Caetano, senior pastoor by New Life Church, waar dr Rüschenbaum ‘n lidmaat was, sê dat die Tuinroete ‘n uiters begaafde en toegewyde mediese praktisyn verloor het. Meer nog, sê Caetano, dat syne die verlies van ‘n baie, baie goed vriend is. “New Life het ‘n lojale, vrygewige broer verloor wat altyd bereid was om te help.”
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'