OUDTSHOORN NUUS - Die polisie moes die afgelope ruk bontstaan met 'n reeks inbrake wat by wonings en besighede plaasgevind het.
Sers. Gretchen Micheals, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, sê daar is verlede Sondagoggend by 'n woning in Riempie Estate ingebreek.
Sy sê verskeie waardevolle items is tydens die inbraak gesteel. Die huiseienaars was nie by die huis toe die voorval gebeur het nie.
"'n Witgoud diamantring, 'n wit iPad, 'n Samsung-tablet, twee Samsung-selfone en 'n vroue Fossil- en mans Nixon-horlosie is gesteel. Items wat uit die huis gesteel is se waarde beloop ongeveer R90 000."
Enige persoon met inligting oor die inbraak kan ao. Christo Olivier by 071 079 7915 of konst. Elrico Prins by 074 859 3679 skakel.
Maandagaand is daar by 'n kafee op die hoek van Adderley- en Kerkstraat ingebreek. Volgens Micheals het die inbrekers toegang tot Emmanuel B.C. Shop gekry deur die voordeur van die winkel oop te breek.
"Daar is sigarette en 'n onbekende bedrag geld gesteel. Niemand is nog vir die voorval in hegtenis geneem nie."
'n Inwoner van Adderleystraat, Verdon Bence, het die afgelope week onder twee misdaadvoorvalle deurgeloop.
Eers het iemand Saterdagnag sy huis met ballonne vol ou motorolie bestook en toe het 'n jeugdige Dinsdag oor die heining geklim en by sy bakkie wat in die erf was ingebreek.
Bence het die verdagte gejaag en minute later in Hoogstraat voorgekeer en met die hulp van 'n buurman aangehou totdat 'n polisievoertuig toevallig verbygekom het.
Die oopgebreekte voordeur van Emmanuel B.C. Shop waar die boewe toegang tot die winkel gekry het. Foto: Christo Vermaak
Volgens Bence word die verdagte moontlik met verskeie ander voorvalle verbind.
Hy het glo uit 'n plek van veilige aanhouding weggeloop en sou Woensdag op vorige klagtes in die landdroshof verskyn.
Wat die voorval met die olie aanbetref sê Bence dit lyk asof iemand probeer het om sy voertuig met die ballonne te tref.
Een ballon het egter die pallisadehek getref en die ander een het die motorhuis getref en eers gebars toe dit op die plaveisel val.
Bence het 'n beloning van R2000 aangebied vir enige inligting wat die skuldige aan die pen sal laat ry.
Enigiemand wat inligting het kan hom by 082 573 1248 skakel.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'