Die brand het verlede Saterdag twee gesinne se plakkershutte tot op die grond afgebrand en Sharall Manuel (3) wat in haar kamer lê en slaap het, kon nie betyds bereik word nie.
Haar ma, Iris Manuel, se hart is gebreek. Sy vertel hoe sy probeer het om die hok oop te breek om haar kind te red, maar sy kon nie die planke loskry nie. Sy kon ook nie by die deur in nie, want die vlamme was oral.
"Dit het net so skielik gebeur. My oudste dogter, Gretchen was besig met haar twee maande oue baba en ek het kos op die oliestoof gemaak. Ek het toe water gaan haal vir die kos, maar die water is 'n hele entjie van ons huis af. Die volgende oomblik hoor ek die huis brand en Gretchen druk haar baba in my arms," vertel die hartseer Manuel.
Sy vertel dat sy vandaar af niks kan onthou nie. Sy het haar kleindogter vir iemand langs haar gegee en haar eie kleintjie probeer red, maar dit was te laat. Die plakkershut was onder vlamme.
"Ek onthou ons het water aangedra en probeer natgooi en iemand het vir my gesê Sharall is klaar uit, maar ek het geweet sy is nie. Een van die vrouens het selfs geweier om haar emmer water vir ons te gee," vertel sy.
Leonie Pick, Manuel se buurvrou, se plakkershut het ook afgebrand.
"Ek en my dogter was by die werk, my man het gelê en slaap. Gelukkig het iemand hom gaan wakker maak - anders was hy ook dalk dood," vertel sy.
Die twee gesinne het alles verloor en het net die klere aan hul lywe oor.
Volgens sers. Gretchen Micheals, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, het die brand vermoedelik by die stofie ontstaan.
'n Geregtelike doodsondersoek word gedoen.

Wyle klein Sharall Manuel

Gretchen Manuel met haar twee maande oue babadogtertjie, saam met haar ma Iris. Haar boetie Danwill Manuel (6) en suster Nashlee-Ann (10) was nie in die huis toe die brand uitgebreek het nie. Foto: Liezl van Niekerk
ARTIKEL: LIEZL VAN NIEKERK, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein-Karoo nuus'