LADISMITH NUUS - 'n Bekende lid van korrektiewe dienste op Ladismith, Heldegardt Prins, hoof van gemeenskapskorreksies, het op 18 Julie 'n agt jaar lange stryd teen borskanker verloor.
Sy is voorverlede Saterdag vanuit die St. Agnes Anglikaanse kerk op Zoar begrawe. Die begrafnisdiens het volgens streng Covid-19-bepalings geskied en slegs 50 mense is binne die kerk toegelaat.
Lede van korrektiewe dienste vanoor die hele Suid-Kaap was ook teenwoordig.
'n Familielid Keith Meyer, het sy huldeblyk begin met 'n aanhaling uit die gedig Maria van Elizabeth Eybers: "Toe jy soms met 'n glimlag, langs jou liggaam stryk, het jy toe besef met hoeveel angs hy sy hellevaart sou aanvaar?" en dit aan die oorledene se moeder, Dorothy gerig, met verwysing na die erge stryd wat Prins veral tydens die laaste twee weke van haar lewe sou ervaar.
Vader Rudy Laws het verwys na die persoonlike verhouding wat hy met die oorledene opgebou het en dat hy nie kan onthou dat sy eenkeer gekla het nie.
"Haar lewe met kanker kan as 'n voorbeeld dien vir ons wat blakend gesond is, maar nooit tevrede is met dit wat ons het en dit wat die liewe Meester daagliks vir ons bied nie.”
'Ons bring jou die nuutste Karoo nuus'