OUDTSHOORN NUUS - Altesaam 82 hoër- en laerskoolleerders van twaalf skole in en om Oudtshoorn het verlede Donderdag nuwe skoolklere en –skoene van die personeel van Oudtshoorn Korrektiewe Dienste (DKD) ontvang.
Die leerders is deur maatskaplike werkers van die departement maatskaplike dienste, kindersorg en twee maatskaplike werkers van korrektiewe dienste, Veronica Maloy en Nathalie Pieterse, geïdentifiseer.
Volgens, Lynette Pypers, waarnemende sekretaresse by Oudtshoorn DKD, is dit 'n inisiatief wat die Suid-Kaapse areakommissaris van die departement korrektiewe dienste, Ndileka Booi, sewe jaar gelede begin het.
Personeellede het soos in die verlede weer hand in eie sak gesteek vir 'n bydrae om die klere aan te koop. "Dit is vrywillig, maar elke lid dra by," sê Pypers.
Weziwe Tshazibane, operasionele ondersteuningskoördineerder van die DKD in die Klein-Karoo, het in haar toespraak opvoeders gemotiveer om voort te gaan met die goeie werk en die rol wat hulle in leerders se lewens speel.
Die skoolklere is geskenk aan leerders van, Hoërskool Môrester (13 leerders), Bridgton Sekondêr (10), Fezekile Sekondêr (15) en die primêre skole Bongolethu (17), Rodewal (7), Rooiheuwel (2), Kairos (1), Bergsig (3), De Villiers (6), Welgeluk (2), Colridge (2) en die Oudtshoorn Vaardigheidskool (4).
Leerders van Fezekile Sekondêr met hul nuwe skoolklere en -skoene saam met personeellede van Oudtshoorn Korrektiewe Dienste en die skoolhoof (regs). Foto: Garnett Wicomb. (Leerders se gesigte is verbloem ter wille van anonimiteit)
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'