OUDTSHOORN NUUS - Die jaar toe pa … , debuutdigbundel van Oudtshoorn Courant se redakteur, Hannes Visser, is een van vyf benoemdes vir die Desmond Tutu-Gerrit Brand 2020-prys wat later vanjaar toegeken word.
Die kortlys is pas bekendgemaak. Visser se mededingers is Kom sit aan (Rudi Swanepoel), Ongekaart (samestellers Anandie Greyling en Cas Wepener), Reconceiving reproductive health (redakteurs Manitza Kotzé, Nadia Marais en Nina Müller van Velden) en Resistance to and acquiescence in Apartheid (Henry Mbaya).
Die prys is deel van die Andrew Murray-prysgroep wat elke jaar in die omgewing van 9 Mei, Murray se geboortedatum, toegeken word.
Volgens Visser spreek sy bundel, wat ’n jaar (1967) in sy lewe as tienjarige in ’n arm, disfunksionele gesin uitbeeld, kwessies aan waardeur mense op verskillende vlakke en teen verskillende agtergronde worstel.
“Ek dink die bundel het die kortlys van ’n oorwegend Christelike platform gehaal omdat dit op ’n emosionele en waarde-vlak met mense praat.”
Visser sê die lewensbenadering wat sy boek uitbeeld, “is dat jy nie is waarvandaan jy kom nie – jy is wie jy besluit jy wil wees. Ons het almal keuses, sommige meer beperk as ander, maar keuses nietemin. Vir my was die huis ’n plek om te slaap en te eet, en ek het byna van buite af gekyk na wat in die huis aangaan. Voor my pa se dood het ek en my ma baie dinge saamgedoen; ná sy dood het haar aandag geskuif. E"k dink nie ons het ooit weer dieselfde verhouding as vóór 1967 gehad nie.”
Terugskouend is hy spyt dat hy nie vroeër, voor die skryf van die bundel, meer oor sy pa as mens uitgevind nie. “Dit het iemand anders gekos om my daarop te wys dat hy ’n dromer was. Ek hoop om eendag sy storie te vertel, die een wat ek nie ervaar het nie.”
Nog ’n tema wat sterk in die bundel na vore kom, is apartheid se onreg teenoor ’n deel van die Suid-Afrikaanse samelewing. “Ek dink dit was die groot ironie van die apartheidsera. Ons as kinders was dikwels op huishulpe aangewese; tog is hulle nooit daarvoor erken nie. Hulle was maar net daar. Dis ’n groot onreg.”
Visser vertel dat die jeugboekskrywer Marie Reyneke van George hom die eerste, basiese beginsels van skryf geleer het.
“Gert Vlok Nel en Leonard Cohen se gedigte was en is steeds vir my ’n groot inspirasie. Die eerste bekende digter met wie ek egter gesels het, was Daniël Hugo. Ek dink ek het myself as digter begin sien die dag toe hy vir my ’n eksemplaar van sy bundel Hanekraai gee met die boodskap voorin: Aan die digter wat saam met die hane opstaan."
Hugo was uiteindelik Die jaar toe pa … se redakteur. “Hy het die hele pad saam met my gestap. Ek sal hom ewig dankbaar hiervoor wees, al voel hy ek moet ’n bietjie meer rym!”
Die eerste oplaag van Visser se bundel was teen September verlede jaar uitverkoop en die tweede druk is reeds op die rakke. “Ek weet nie hoeveel verkoop het nie, net dat die verkope in vergelyking met dié van ander bundels baie goed is.”
Visser is nou besig om ’n misdaadroman af te rond en nuwe gedigte vir ’n volgende bundel te skryf. “Ek word 65 op 17 November 2022 en moet dan volgens maatskappybeleid aftree. Ek kan nie wag om voltyds te skryf nie.”
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'