Update
OUDTSHOORN NUUS - 'n Man en twee vroue wat doodluiters by twee geskenkwinkels rondgedrentel het, het met volstruisleerhandskke van derduisende rande die pad gevat. Die drie is Donderdag 1 Augustus op geslotekringtelevisie van die Ostrich Emporium vasgevang waar hulle ten minste vier handsakke gesteel het.
Skaars 'n uur later het hulle 'n handsak van ongeveer R9 000 en moontlik ook ander items by die geskenkwinkel van Mooiplaas-gastehuis by Volmoed gesteel. Ook daar is hulle skelmstreke op video vasgelê.
Uit die videomateriaal is dit duidelik dat die drie saamspan om seker te maak hulle word nie betrap nie.
Een van die vroue is duidelik die spreekwoordelike kranswag wat seker maak niemand is in die omgewing nie, terwyl die ander twee die items in 'n groot inkopiesak prop.
Volgens Hanlie Keller, eienaar van Mooiplaas, het die man 'n koeldrank by die winkelassistent gekoop en praatjies aangeknoop. Op 'n stadium het die een vrou ook by die geselsie aangesluit terwyl die ander een tussen die rakke beweeg het.
Hulle het die diefstal ontdek toe een van hulle werknemers genoem het dat daar beeldmateriaal op die Oudtshoorn Courant se Facebook-blad is van drie mense wat handsakke by die Ostrich Emporium gesteel het.
Die totale verlies wat die twee ondernemings gely het, is nie bekend nie. Nog 'n geskenkwinkel, die een by Kango-volstruisplaas op die grottepad, het 'n ruk gelede groot verliese gely toe diewe 'n agterdeur oopgebreek het en ongeveer 30 duur leerhandsakke gebuit het. Die waarde van die handsakke was bykans R180 000.
Teen gister was geen verdagtes nog in hegtenis geneem nie.
Lees 'n vorige artikel: Nog 'n winkel loop deur
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'