OUDTSHOORN NUUS - - Die Oudtshoorn-diereherberg, 'n nuutgestigte liefdadigheidsorganisasie wat op diere fokus, is tans besig met lootjieverkope.
Volgens Pieter Cillié, 'n lid van die diereherberg, is dit alles om geld vir diereliefdadigheid in te samel.
"Ons het gedurende die KKNK 'n stalletjie gehad waar ons ondermeer speelgoed en jassies vir honde verkoop het. Die stalletjie het nogal nie sleg gedoen nie. Die hoogtepunt was natuurlik toe Lizz Meiring en Lida Botha, twee bekendes in die vermaakbedryf, by ons stalletjie omgekom het en donasies gelewer het."
Volgens Cillié is hulle innig dankbaar vir die skenkings.
"Daar is egter steeds 'n groot behoefte aan onder meer kos, geld vir veeartsrekeninge, 'n Wendy-huis, ag noem maar op. Dit is hoekom ons so aanhoudend idees uitdink om geld in te samel om die diere wat daar buite swaarkry te help."
Volgens hom is die pryse vir die lotery iets wat niemand wil misloop nie.
"Daar is 'n wegbreek vir twee persone vir twee aande by die Blue Whale Resort ter waarde van R2 500. Daar is ook 'n R500 geskenkbewys van Beauty Bar, 'n hondebed ter waarde van R500 en 'n skildery wat mense kan wen. Al wat hulle moet doen is om 'n kaartjie van R50 te koop en hulle staan 'n kans om een van die fantastiese pryse te wen."
Cillié sê die Diereherberg beywer hulle om diere in nood te help.
"Daar is so baie diere daar buite wat in haglike omstandighede woon. Ons probeer hulle help."
Enigiemand wat 'n skenking wil maak of 'n kaartjie wil koop kan Cillié by 081 406 0466 kontak.
Van links is Ester Zehmke, Ansa de Jager, Johanné de Jager, Susan le Roux en Pieter Cillié saam met Gesiggie, Cillié se hond.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'