Warning: Graphic content
OUDTSHOORN NUUS - Diere in die Oudtshoorn-distrik is steeds uitgelewer aan brutale verwaarlosing en mishandeling deur hul eienaars.
Volgens Colleen Smith, voorsitter van Oudtshoorn Dogs in Need (Odin), 'n liefdadigheidsorganisasie vir diere, sal daar binnekort vyf klagtes van dieremishandeling en verwaarlosing gelê word na 'n aantal voorvalle die afgelope drie weke.
"Die afgelope paar weke was hard. Die lyding wat diere aan die hand van kinders en eienaars moet deurmaak is walglik en ons kan nie langer toekyk hoe die wreedhede rondom ons gebeur nie," het Smith dié week gesê.
Smith sê sy is Woensdagaand deur Calitzdorp se polisie gekontak om te help in 'n voorval waar 'n groep kinders 'n hond gesteel het, vermoedelik met klippe of stokke geslaan het en daarna in 'n rioolgat gegooi het.
"Toe ek daar aankom was die hond toe onder die gemors. Hy was bang, gedisoriënteerd en kon glad nie sien nie. Die kinders is tussen sewe en 14 jaar oud. Ek het die hond huis toe geneem, gebad en sy oë uitgevee en hy sal vandag (Donderdag) na die veearts geneem het," het sy Donderdagoggend gesê.
Volgens Smith het sy en haar span dié week ook een van die ergste gevalle van mishandeling en verwaarlosing van diere nóg beleef.
Sy vertel dat hulle ingelig is van 'n kat wat siek is in Dysselsdorp.
"Toe ons daar aankom het ons die kat in die eienaars se erf aangetref. Die kat het nog geleef, maar het 'n gat aan die eenkant van sy gesig gehad. Met nadere ondersoek het ons besef dat die kat lewendig deur maaiers opgevreet word. Ons het die kat onmiddellik verwyder.
"Twee huise verder het Magda Davel, die munisipale skutbestuurder, 'n uitgeteerde hond gesien. Die hond was uiters swak en oortrek met vlooie en bosluise. Die hond is ook van sy eienaar weggeneem. Die veearts kon egter niks vir die hond of die kat doen nie en albei is uitgesit."
Moddertjie wat in Meimaand met klippe bestook is en in ‘n kanaal gegooi is.
Einde Meimaand het 'n groep kinders in Oudtshoorn 'n hond, Moddertjie, met drade vasgebind, in 'n kanaal gegooi en met klippe bestook. Smith en haar span het die hond verwyder, maar ten spyte van vele pogings om Moddertjie se lewe te red het hy twee dae later aan sy besering beswyk.
Volgens Smith wag hulle op veeartsverslae oor die diere se beserings, waarna klagtes beslis gelê sal word.
In Februarie vanjaar het die Oudtshoorn Courant ook oor drie ernstige klagtes van dieremishandeling berig. Smith sê hulle het klagtes gelê en het ook saaknommers ontvang.
"Ons wag net om te hoor wanneer die sake in die hof gaan verskyn. Dit beteken dat mense wat hul diere mishandel en verwaarloos uiteindelik strafregtelik aangekla word. Ek verstaan nie hoe 'n gemeenskap kan staan en toekyk hoe sulke wreedhede rondom hulle gebeur nie."
Die Tuinroete DBV het ook die week, in samewerking met Have a Heart Foundation van Bonnievale, twee donkies by 'n eienaar in Calitzdorp verwyder.
Een van die donkies wat in Calitzdorp verwyder is.
Volgens Mark Ward van Have a Heart, fokus hulle op die beskerming van perde, donkies en plaasdiere.
"Ons het 'n oproep ontvang van 'n persoon wat besorg was oor die twee donkies wat reeds 'n geruime tyd met ernstige beserings rondloop. Met ons besoek het ons gesien dat die beserings minstens twee weke nie behandel is nie en begin septies raak het."
"Ons het met die DBV kontak gemaak om ons te help met die vervoer en mediese behandeling van die donkies. Hulle is uit die eienaar se sorg verwyder en ontvang tans behandeling by die DBV in George."
Volgens hom was die donkies se kamp te klein en het hulle waarskynlik beserings opgedoen by die kampheining.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'