OUDTSHOORN NUUS - Diefstal vanuit en vanaf motorvoertuie het nie enige styging getoon die afgelope twee maande nie, maar wat wel kommer wek is die hoeveelheid voertuig batterye wat uit die voertuie gesteel word.
Kapt. Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie sê batterye was nie vroeër 'n item wat uit voertuie gesteel is nie.
"Die polisie kom gereeld op batterye af terwyl hulle optredes doen en tweedehandse handelaars besoek, maar kan nie beslag lê of bewys aan wie dit behoort het nie aangesien die batterye nie gemerk is nie. Ons wil 'n beroep op voertuigeienaars doen om batterye van hulle voertuie te merk deur die voertuig se registrasienommer daarop te graveer.
Wees veral bedag wanneer voertuie in die nag buite persele of plekke met swak beligting geparkeer word, dit maak jou voertuig 'n maklike teiken."
Wenke oor hoe om diefstal uit voertuie hok te slaan:
- Moenie waardevolle artikels, soos beursies, sonbrille, selfone of handsakke, oop en bloot in die voertuig laat rondlê nie,
- Sluit altyd jou voertuig,
- Maak seker jou voertuig se vensters is toe. Soms is die venster heeltemal oop en dan lyk dit of die venster toe is,
- Moenie jou voertuig op stil, verlate of donker plekke parkeer nie,
- Voertuig batterye word gereeld gesteel, maak seker jou battery is gemerk,
- As jou voertuig met 'n afstand beheer sluit, maak seker hy is gesluit.
- Moet nooit goedere agter op 'n bakkie onbewaak los nie.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'