OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn-munisipaliteit doen 'n dringende beroep op die publiek van die Groter Oudtshoorn om diefstal en vandalisme te rapporteer wat plaasvind by Oudtshoorn-, Dysselsdorp- en De Rust-rioolsuiweringswerke.
Volgens Aurelia Mle, woordvoerder van die munisipaliteit, is vandalisme en diefstal van toerusting en omheinings tans 'n groot probleem.
"Al drie die werke is uiters gevaarlik en beskik oor diep damme en loop die publiek die gevaar om te verdrink sou hulle in die damme te lande kom.
"Om hierdie diefstal hok te slaan, het die munisipaliteit die publiek se hulp nodig om hulle oë en ore te wees. Gedeeltes van die werke by De Rust-rioolsuiweringswerke is einde November 2021 omhein en ons begin nou in Januarie 2022 om gedeeltes van die heining by die Oudtshoorn-rioolsuiweringswerke te vervang" het Chris Swart, bestuurder van water- en rioolwerke, genoem.
Volgens Mle is dit 'n groot finansiële uitgawe om elke keer die omheining te vervang, en dra daartoe by dat befondsing uitgeput raak en ander belangrike projekte nie aandag kan geniet nie.
Die uitvoerende burgemeester, Chad Louw, vra alle inwoners om trots te wees op die dorpe en verantwoordelikheid te neem as dit kom by munisipale eiendomme.
"Inwoners van die Groter Oudtshoorn moet besef dat, wanneer mense gesteelde materiaal koop en verkoop, ons eintlik van onsself steel," het hy gesê.
Skakel 044 203 3090/3086 en na-ure op 044 203 7800 om diefstal en vandalisme te rapporteer.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'