OUDTSHOORN NUUS - Werk aan die spoorlyn het op 1 Desember 1908 begin en was vier jaar en 6 maande later, op 6 Augustus 1913, deur Lady en Sir David de Villiers Graaff geopen.
Die totale koste om die spoorweglyn tussen Oudtshoorn en George aan te lê het 'n astronomiese £455 000 gekos.
Die trein het op 6 Augustus 1913 om 13:40 die Oudtshoorn-spoorwegstasie genader en ongeveer 5 000 juigende mense het die openingseremonie bygewoon.
Inwoners van Oudtshoorn is versoek om hulle besighede en wonings te verfraai aangesien 'n groot aantal gaste van oor die land die geleentheid sou bywoon en Oudtshoorn moes wys wat sy kon doen!
Die spoorweglyn tussen George en Oudtshoorn het die 60 ure wat dit sou neem om van Oudtshoorn na Kaapstad te reis, na 24 ure verminder.
Die reis-afstand tussen Kaapstad en Oudtshoorn is van 910 myl na 420 myl verminder.
Oudtshoorn se landboubedryf het hoofsaaklik tabak- en volstruisprodukte na Europa uitgevoer en die bou van dié spoorlyn het die afstand na Port Elizabeth se uitvoerhawe na 277 myl verminder.
Hierdie spoorlyn het 'n direkte lyn na George verseker en was oor dié afstand met sewe tonnels verbind.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'