OUDTSHOORN NUUS - Middelverslawing is een van die grootste probleme waarmee Oudtshoorn te kampe het en dit het 'n geweldige invloed op die gemeenskap. So sê Franzu Badenhorst, hoof- uitvoerende beampte by Famsa Karoo, 'n nie-regeringsorganisasie wat saam met die departement van gesondheid en maatskaplike ontwikkeling ondersteuningsdienste aan die gemeenskap lewer.
Volgens Badenhorst is dit hoofsaaklik tienerseuns wat betrokke raak by middelverslawing, maar dit is nie tot hulle beperk nie. "Seuns is meer geneig om te eksperimenteer."
Volgens 'n onlangse opname is middelafhanklikheid van tieners in die Wes-Kaap soos volg: dagga 75%, metamfetamien (tik) 9%, alkohol 8%, metakaloon (Mandrax) 5%, heroïen 2% en kokaïen minder as 1%. Die verspreiding word grootliks bepaal deur die koste van die middel.
Daar is verskeie redes vir tieners se verslawing, soos onder meer beskikbaarheid, vroeë blootstelling, groepsdruk, armoede en 'n gebroke gesinstruktuur.
"Kinders kry van kleins af te doen met drank en sigarette: hul ouers stuur hulle om dit te gaan koop, en die kinders rook en drink saam met die ouers. Dagga is ook vrylik beskikbaar en redelik goedkoop – selfs 'n gr. 2-kind weet waar om dit in die hande te kry."
Teen die tyd dat tieners hoërskool toe gaan, het sowat 80% van hulle al begin alkohol gebruik en 50% het al te doen gekry met 'n onwettige dwelmmiddel.
Straatkinders "oes" toppies – sigaretstompies – waarvan die oorblywende tabak soms met ander middels gemeng en gerook word.
"Tieners het 'n behoefte daaraan om te behoort en in te pas en hulle gebruik dwelmmiddels om deur die portuurgroep aanvaar te word. Wanneer 'n kind se basiese regte nie nagekom word nie, soek hy aanvaarding by sy portuurgroep, wat sy gedrag bepaal."
In gemarginaliseerde gemeenskappe is die vader dikwels afwesig en die ma die enigste broodwinner en gesagsfiguur, maar dikwels aanvaar 'n moeilike tiener nie die ma se gesag nie.
In baie gevalle is dwelmbase wat in groot huise woon en deftige motors besit die enigste rolmodelle vir tieners wat in armoede grootword.
Verslaafdes kry op verskillende maniere geld vir dwelms: hetsy deur geld te "verdien" deur skroot of herwonne materiaal te verkwansel, familielede se besittings te verkoop, oumense se toelaes te roof, en deur "gunsies vir geld" te ruil.
"Famsa fokus hoofsaaklik op bewusmaking en voorkoming deur middel van programme by skole en vroeë ingryping, maar dit is 'n opdraande stryd. Wanneer die staat statutêr ingegryp het, het ons ook 'n rol te speel met so 'n tiener se herintegrasie by die gemeenskap."
Famsa Karoo het altesaam 68 personeellede wat gesinne op verskeie vlakke ondersteun en gesinsberading aanbied. Hulle assesseer ook die gesondheidstatus van gesinne en doen verwysings na klinieke, doen tuisversorging en MIV-berading.
Kontak Famsa by 044 272 7020 vir meer inligting en hulp.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'