DE RUST NUUS - Die tweede been van 'n projek buite De Rust wat rioolwater met behulp van plantwortels suiwer sodat dit geskik is vir gebruik op kostuine, vorder fluks.
Die projek is 'n gesamentlike poging van die Gourits-groepsbiosfeerreservaat (GCBR), Oudtshoorn-munisipaliteit en die gemeenskap van De Rust.
De Rustica-olyflandgoed het grond vir die aanlê van vrugteboorde en 'n groentetuin beskikbaar gestel.
Die tweede been van die projek behels 'n kwekery waar granaat- en vye-saailinge vir die boord gekweek word. Clayton Maré, permakultuur-deskundige van die plaas Tehila in die Kamanassie, waar granate en vye organies verbou word, is verantwoordelik vir die beplanning van die tuin en boorde.
Hy bring granaat- en vye- saailinge wat op die plaas geoes word, na die kwekery.
"Die mis van wilde voëls, wat die granate vreet, bevat die sade, wat maklik in die boorde op die plaas ontkiem.
"Die klein plantjies word wortel en al uitgetrek en herplant in sakke. Die vyebome word gereeld gesnoei en die lote loop maklik uit," verduidelik Maré.
Die saailinge in die kwekery word besproei met water uit die sesde riooldam, waaruit skadelike bakterieë op natuurlike wyse onttrek is, en wat met 'n sonpomp na 'n watertenk op hoërliggende terrein herlei word.
Alhoewel die beginsel van die organiese suiwering van rioolwater nie nuut is nie, is dit die eerste keer dat die metode by munisipale riooldamme in die land gebruik word.
Die projek, wat in Junie vanjaar van stapel gestuur is, behels kunsmatige drywende eilande op die vyfde van ses riooldamme.
Die drywende eilande bestaan uit vlotte van skadunet wat deur middel van leë plastiekbottels dryf, waarop riete en papkuil geplant is.
"Die wortels van die riete op die drywende vleilande filtreer tans nie genoeg water nie, maar daar word gekyk na alternatiewe tegnieke om filtrasie te bevorder," sê dr. Steve du Toit, wat in beheer is van die projek.
Die primêre doel van die projek is om die rioolwater sodanig te suiwer dat dit in die natuurlike sisteem teruggeplaas kan word en gebruik kan word vir besproeiing van die groentetuin, kontantgewasse en vrugteboorde.
ARTIKEL EN FOTO: TISHA STEYN, OUDTSHOORN COURANT KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste De Rust, Klein Karoo nuus'