OUDTSHOORN NUUS - Die eindstryde in Eden Tennis se gewilde Fritz Meissner-tennistoernooi is verlede Saterdag op die bane van die Wesbank- tennisklub beslis.
Jacques de Beer en Christine van Coller van Wesbank-tennis-klub het as wenners van die A-afdelings uit die stryd getree nadat die twee spanne nie een van hul wedstryde die afgelope jaar verloor het nie.
In die B-afdeling was dit die spanne van Willem Pretorius en Elsabe Ferreira wat as wenners uit die stryd getree het. Die span van Des Sampson het weer die 240-afdeling gewen terwyl die span van Gert Beyleveld die beker gewen het vir die span met die beste sportmangees. Behalwe die eindstryde, is die ander uitspeelwedstryde op die bane van Langenhoven Gimnasium gespeel.
Altesaam 25 spanne, 15 mans- en 10 vroue- spanne (100 spelers), het vir vanjaar se kompetisie ingeskryf.
Die voorsitter van Eden Tennis, Debra Hyde, het Saterdag tydens die prysuitdeling haar dank uitgespreek teenoor die tennnis-klubs en skole wat gedurende die jaar hul fasiliteite vir die wedstryde beskikbaar gestel het.
Sy het ook 'n spesiale woord van dank aan die organiseerders, Ernst en Hanlé Kok, sowel as die onderskeie kapteins, gerig.
Die mans se A-afdeling wenners is van links: Adam Myburgh, Andries Visagie, Jacques de Beer (kapt) en Rudy van Rooyen. In die middel is Debra Hyde (voorsitter van Eden Tennis).Foto's: Garnett Wicomb
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’