Video
PRINS ALBERT NUUS EN VIDEO - Met slegs drie jaar dansondervinding het die Prins Albert Vastrappers verlede naweek tydens die ATKV se nasionale rieldanskompetisie stof in die oë van gesoute dansers geskop. Die eindstryd van die rieldanskompetisie het by die Taalmonument in die Paarl plaasgevind.
Die Vastrappers is in 2015 onder leiding van Denise Ohlson van die ATKV-tak op Prins Albert en Sara van Rooi gestig en hulle het vanjaar die eerste keer aan die eindronde deelgeneem. Net minder as 90 spanne het vanjaar aan die kompetisie deelgeneem waarvan die topvyf in elke ouderdomsgroep na die eindronde deurgedring het.
Die Vastrappers se o.14-groep is as die nasionale kampioen in hul ouderdomsgroep aangewys toe hulle die Grietjie van Garies-toekenning verower het. Die o.20's het in hulle afdeling as naaswenners van die baan gestap. Zannadann van Rooi is as die topdanser (mans) van die o.14's aangewys en Carlton Sass as die o.20's se topdanser. Wat die o.20-span se tweede plek en Sass se eerste plek meer indrukwekkend maak is die feit dat die dansers slegs 14 is.
Die Prins Albert Vastrappers se orkes van drie lede is as die beste musikantegroep aangewys en die onder 14's se dansliedjie as die beste liedjie in die kompetisie. Sara Van Rooi is die musiek- en liriekskrywer en sing dit ook self.
Van Rooi het Saterdagaand ná die kompetisie aan Oudtshoorn Courant gesê 'n beter manier om 2018 af te sluit is daar nie. "Ons het hard gewerk. Die kinders het nooit gekla as hulle moes oefen nie. Die Prins Albert Vastrappers het nou 'n naam in dié kompetisie."
Die wenspan en die orkes het Maandagmiddag met die besoek van die Oudtshoorn Courant, spesiaal hulle dansklere aangetrek en in die stof van die woonbuurt, Noordeinde, gewys hoekom hulle as die kampioene aangewys is.
Denise Ohlson, Sara van Rooi en 'n groep ouers het die dansers aangemoedig. Besoekers van Hermanus wat daarin belangstel om na Prins albert te verhuis, het ook op die dansery afgekom en was verstom oor die kinders se vlugvoetigheid.
Volgens Sara van Rooi het Ohlson haar in 2015 genader om 'n rieldansgroep op die been te bring.
"Rieldans is mos my volk, die Khoi, se dans en ek het besluit die mense moet dit weer kan ervaar soos ek dit as 'n kind ervaar het. Sy het oudisies gehou en met harde werk en ure se oefen die dansers geslyp.
Kyk 'n video hieronder.
Ohlson het gesê: "Ons eerste optrede was by die plaaslike museum se Witblitsfees, toe volg die sessie met die Nuwe Koue Grastrappers by die landbouskou – waarna hulle en hul leier, Floris Smit, ons drie waardevolle werksessies gegee het. En vandag, drie jaar later, het ons twee spanne al sewentien bekers losgedans en vanjaar met die Grietjie van Garries-wisseltrofee vir 2018 weggestap."
Van Rooi het Maandag genoem dat die Prins Albert Vastrappers gereeld genooi word om by funksies te dans en dat hulle eersdaags in die laaste episode van David Kramer se kykNet-program Wakkerslaap, te siene is.
Volgens Sonél Brits, besturende direkteur van die ATKV, is die eerste ATKV-rieldanskompetisie met slegs sewe groepe in 2006 aangebied. Vanjaar het 89 groepe landswyd aan die kompetisie deelgeneem.
Sara van Rooi en die kampioenspan wat sy afrig.
'Ons bring jou die nuutste Prins Albert, Klein Karoo nuus'