OUDTSHOORN NUUS - 'n Inisiatief om die beskadiging van die peperduur betonheining tussen Rose Valley en die besige N12-hoofroete stop te sit, het Dinsdag begin.
'n Groep inwoners van Rose Valley het op die inisiatief van Leon Campher bymekaargekom om 24 van hulle te identifiseer om die projek van stapel te stuur.
Die idee agter die projek is om inwoners eienaarskap van die heining te laat neem sodat dit nie verder afgebreek en verniel word nie.
Die splinternuwe heining is nog glad nie voltooi nie, maar is reeds op verskeie plekke afgebreek.
Die Oudtshoorn Courant het onlangs hieroor berig. 'n Gemeenskapsleier, Leon Campher, het met die projek begin waarvolgens 24 mense uit die vier dele van Rose Valley vir die volgende drie weke van huis tot huis sal gaan om inwoners in te lig oor die projek.
Roadmac, wat tans die konstruksiewerk aan die N12 doen, het R30 000 bewillig om die projek aan die gang te kry. Mense wat belangstel om aan die eerste deel van die projek deel te neem het hulle name gegee en 24 van die name is tydens Dinsdag se vergadering getrek.
"As die inwoners nie self eienaarskap vir die heining neem nie, gaan dit net meer en meer beskadig word en dan is daar geen beskerming vir kinders wat vrylik na die hoofpad kan loop nie," het Campher gesê.
Hy het verduidelik dat dit 'n lang projek gaan wees en die ideaal sal wees dat elke inwoner 'n stukkie van die heining aanneem en daarvoor verantwoordelikheid neem.
'Ons bring jou die nuuste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'